Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 23 Die Aarde

Die aard-atmosfeer en haar neerslag

3-2-1847.

1. Dat die son begryplikerwys slegs iets is wat die lig ondersteun, maar nie dit is wat die lig eintlik self skenk nie, is maklik te verklaar uit die feit dat die son vooraf die lig uit die tallose sonne op haar glansende oppervlakte opneem en dit dan as `n verenigde lig in die wye eterruimte uitstraal. Die uitgestuurde, verenigde lig van die baie sterre ontmoet ook oral die ligstrale, wat direk van die sterre op die aarde val, verenig hulself dan met hierdie ligstrale en val dan saam met hulle op aarde. Daaruit bestaan die ondersteuning, want die sonlig alleen sou baie swak wees, as die lig van die sterre nie met haar sou saamwerk nie. Ook sou die lig van die maan alleen baie dof gewees het, as dit nie deur die sonlig ondersteun was nie, soos dit op sy beurt deur die sterrelig ondersteun word.

2. Dat egter die een lig die ander kan ondersteun, word bewys deur verskillende aangesteekte ligte in `n kamer, wat tog duidelik meer lig versprei as een enkele lig.

3. Op die hoogte in die berge waaroor ons al gepraat het, kan hierdie ondersteuning egter nie die uitwerking hê soos in `n laer geleë streek nie, omdat, soos wat alreeds uiteengesit is, die strale daar nog nie voldoende digtheid bereik het nie. Dit gebeur omdat die lugkring om die aarde `n lensvormige ronde deursigtige liggaam vorm. Dit is as`t ware `n groot brandglas, waarby die invallende sonstrale nie dadelik hulle volle sterkte agter die lens het nie, maar net verder weg, op `n afstand wat gelyk is aan die helfte van die deursnee van die periferie (sirkelvormige buiterand), waaruit die bolvormige oppervlak van die brandglas geneem is; maar die strale kom steeds agter die brandglas nader na mekaar toe en kry dus `n steeds sterker werking totdat dit ten slotte hulle hoogste krag in die brandpunt bereik. Die brandpunt van die groot luglens sou net in die middelpunt van die aarde geval het, waar `n sonstraal egter nooit deurdring nie. Nietemin word die ligstraal, wat op die oppervlakte van hierdie groot aardlens val, steeds digter en werksamer hoe meer hy die aarde en tegelykertyd sy brandpunt nader. Objekte soos byvoorbeeld die berge, lê al meer in die minder digte deel van die ligstrale as die dieper geleë dale en veral die seegebied van die aarde; die strale van die ver verwyderde sterre kan nog geen merkbare digtheid in die berge hê en dus ook geen invloed op die plantegroei uitoefen nie. Met ander woorde: Hierdie ligstrale vorm op sulke hoogtes nog geen spesifika nie. Daarom kan die plantsoorte, wat hierdie spesifika nodig het, nie meer op sulke hoogtes gedy nie.

4. Dit is dan ook die oorsaak dat die lug steeds suiwerder word op hierdie hoogte, wat uiteraard natuurlik is, want hoe minder mengsels homself in `n vloeistof bevind, des te suiwerder moet die vloeistof wees; soos wat `n mens ook in sy hart steeds suiwerder, gesonder en kragtiger word, hoe meer hy die veelsoortige mengsel van sy hartstogte, begeertes en behoefte uit homself verban het.

5. Aangesien op hierdie hoogte, of beter gesê in hierdie gebiede, die strale uit die kleiner sterre, net soos selfs die uit die son, egter as gevolg van hulle geringe digtheid, nog nie so `n effek kan hê as verder na benede nie, is so `n hooggeleë gebied in `n sekere sin `n oorgangspunt van die vroeëre sterker intredende werking. Oftewel, hier op hierdie hoogte begin die strale hulleself te verdig, gedeeltelik deur hulle eie verdigting en gedeeltelik deur die refleksie, of die strale wat weer deur die aardoppervlakte teruggekaats word. Deur hierdie straling en terugstraling word dan bepaalde ontwikkelings in die lig veroorsaak, wat soos `n soort golf lyk. As die golwe vir `n tyd deurgaan, word daardeur ook `n spesifikum opgewek, en wel omdat die golwe al `n chemiese ligproses is, om op julle geleerde manier te praat. Die spesifikum, wat in homself natuurlik veelsoortig en gemeng is, tree eers op as `n mis in die hoë gebergte. Word die chemiese proses dan nie verbreek nie, dan ontstaan uit die mistigheid in hierdie hoë area weldra wolkemassas, wat hulleself langsamerhand steeds meer verdig en selfs uiteindelik as reëndruppels, en in die winter as sneeu, op die aarde neerval.

6. Dat hierdie neerslag uit die lig voortkom, word deur velerlei verskynsels aan die oppervlakte bewys; veral in die tropiese gebiede val reën dikwels, wat alles waarop dit maar neerkom, met `n fosforagtige ligglans oortrek. Selfs die oppervlakte van die see glans dikwels so sterk, dat dit lyk asof dit gloei. Ook voorwerpe wat deur die seewater nat word, glans soos skimmelhout uit die bos.

7. Ook die sneeu het `n geheel eie lig en laat duidelik sien, dat hy `n produk van die lig is.

8. Gesien as `n natuurlike gebeurtenis, ontstaan die mis en die wolkformasies in hierdie tweede luggebied dan op hierdie manier. Daarby moet mens die wederkerige werkende polêre krag van die Noord- en Suidpool, wat veral in hierdie area optree, nie buite beskouing laat nie. Want deur hulle word hierdie nuwe formasies met telluriese elektrisiteit (aardelektrisiteit) versadig en kry deur hierdie versadiging slegs die verdigting, waardeur dit aan die aarde as voedsel vir haar plante- en dierewêreld toegevoer kan word.

9. Die so versadigde wolke, wat op hierdie manier die aardse in hulleself opgeneem het, kry gewoonlik `n donker kleur, terwyl die onversadigde, suiwer deel veel witter en ook ligter lyk. Hierdie twee soorte wolke vorm `n teenoorgestelde polariteit met mekaar, waarby die versadigde, donkere negatief en die onversadigde witte positief is.

10. Dat die negatiewe dan altyd aan die kortste end moet trek, spreek vanself. Want wat swaar is en steeds swaarder word, moet omlaag val. Waarom dan ook mense, wat hulle hart met te veel aardse negatiewe onbenullighede vol laai, dit daardeur steeds swaarder maak en daardeur ook ondeurdringbaarder en digter en ongeskik vir die lig; hulle is dan nie meer in staat om in die ryk van die lig op te styg nie, maar maak hulleself wel steeds meer geskik om neer te stort in die ryk van die duisternis.

11. `n Verskynsel wat baie voorkom op sulke hoogtes is dat mense, wat hulleself die moeite getroos het om so `n hoogte te bestyg, gewoonlik op die hoogte wat deur hulle bereik is, baie opgewek en vrolik word en maklik alle sorge vergeet waarmee hulle, benede in die dal, te kampe gehad het.

12. Tegelykertyd kry die meeste ook `n groot eetlus en dors en kan dikwels op so `n hoogte van spyse geniet, sonder dat dit hulle swaar op die maag lê, terwyl hulle benede in die dal nie eens die spyse durf bekyk nie. Die oorsaak daarvan is slegs in die groot suiwerheid van die lug te soek en toon `n groot gelykenis met die toestand van die saligheid, wat ook van alles kan geniet sonder dat dit hulle ook maar enigsins skaad, omdat vir die reine alles steeds meer gereinig word en alles wat skadelik is, daar nie meer skadelik kan wees nie, waar dit deur gebrek aan die daartoe benodigde spesifika, geen verder vormende voeding meer vind nie.

13. Dit was dan `n voldoende uiteensetting oor die tweede lugstreek, wat homself meer as 19 000 meter bo die seespieël verhef en wat natuurlik, hoe hoër jy gaan, steeds suiwerder word. Hierna sal ons onsself na die derde lugstreek begewe en kyk wat daar gebeur en waartoe hierdie lugstreek dien.

Hoofstuk 23 Mobiele weergawe Kommentaar