Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 57 Die Geestelike Son, Boek 2

Elke wêreld het haar ordening en bestaansgronde

1. En kyk net verder! Skares van ernstige, maar blymoedige mense kom reeds uit die honderde poortjies toegestroom en haas hulle hierheen. Kyk tog net na die pragtige mense; hoe onbeskryflik mooi hulle vorme is en welke sagtheid en harmoniese innemendheid is daar in al hulle liggaamsdele! Die man onderskei hom slegs van die vrou deur `n beskeie baard en deur die plat bors; vir die res is hy ook baie sag en teer, maar sy gestalte as geheel, is volkome manlik. Sy hele kleding bestaan, soos julle sien, slegs uit `n hemp wat tot ewe onder die knie reik. Die hemp van die man is ligblou van kleur en het `n glans, soos die vere om die hals van `n pou by julle. Die vrou dra slegs `n roosrooi skort rondom haar heupe, wat tot aan haar kuite reik, sodat die skort haar buik en ook haar dye en sitvlak bedek. Haar boliggaam is gedeeltelik vry en word slegs deur die oorvloedige lig-goudglansende hare bedek.

2. Bekyk nou net so 'n vroulike gestalte van naby; kyk net hoe onbeskryflik fyn haar vel is. Kan julle julleself herinner om ooit iets met so 'n fyn oppervlak op aarde te gesien het? Sien julle op die liggaam ook maar die kleinste rimpeltjie of `n oneffenheid as gevolg van `n uitbulting of kraakbeen van die inwendige liggaam?

3. Kyk, so blank en glad soos `n allermooiste gedraaide en gepolyste bal, waarop nêrens `n oneffenheid te sien is, wat die gevoel vir skoonheid van die oog sou steur nie, so blank en glad afgerond is die liggaam van so 'n vrou ook oral. En daar is geen verskil tussen jonk en oud nie, inteendeel, hoe ouer `n vrou of `n man hier word, des te volmaakter ontwikkel hulle vorme. Ja, op `n hoë leeftyd van soms meer as duisend jaar, word hierdie mense so buitengewoon volmaak mooi, dat hulle ware eteriese sieleskoonheid nie meer deur die krag of die mag van die woord uitgebeeld kan word nie.

4. Ja, die skoonheid van so 'n hoog bejaarde mensepaar is hier soms so buitengewoon groot dat, as hulle hulleself êrens op julle aarde sou bevind, hulle werklik die hardste klippe soos was sou laat smelt.

5. Ja, julle hele aarde sou nie in staat wees om `n menslike gestalte van sulke stralende skoonheid te dra en daarby te bly bestaan nie. Al sou die aarde wel die mooi vorm kan bemeester, dan sou die onuitspreeklike en onbegryplike intensiewe lig van so 'n mens vir `n aardbewoner nie te verdra wees nie. Julle kan met sekerheid aanneem dat so 'n mens hier `n groter massa lig uitstraal as wat menige planetêre sonne doen vir die verligting en verwarming van haar hele planetêre gebied.

6. Julle sê nou: As dit die geval is, vra mens hom tog af uit watter materie die liggaam van hierdie mense bestaan, wat kan bly bestaan in so `n eindelose en onberekenbare allermagtigste oorvloed van lig? Ons op aarde weet immers dat in `n stralebundel van die son, wat deur die werking van `n hol spieël op één punt gekonsentreer word, selfs die diamant nie kan bestaan nie, maar baie spoedig vlugtig sou word; tog is so 'n stralebrandpunt slegs `n minimale deeltjie van die totale ligsterkte van die son. Hier sou één enkele mens, egter nie veel groter as ons nie, so `n intensiewe ligmassa in en om hom heen hê, dat hy daarmee `n hele planetêre son met al haar planete in haar wye uitgestrekte gebiede van `n volkome toereikende ligsterkte sou kan voorsien.

7. Daarom kan mens, liewe vriend en broeder, tog die vraag stel, uit watter materie moet sulke mense dan wel geskape wees om so 'n onuitspreeklik magtige ligsterkte te kan verdra?

8. Liewe vriende en broeders, as julle hier op hierdie son volgens suiwer aardse begrippe en verhoudinge oordeel, dan sal julle waarskynlik nooit tot `n goeie resultaat kom nie; maar as julle die volgende stelreël in ag neem en sê: Elke wêreld en elke son het haar karakteristieke wette waaronder hulle kan bestaan, dan kom julle al beduidend nader aan die waarheid en die grondoorsaak van so 'n bestaan in die lig.

9. Bowendien het julle al soortgelyke verhoudinge op julle aarde. Gaan maar net van die een land na die ander, van die een wêrelddeel na die ander en van die een eiland na die ander, dan sal julle daar al sulke aansienlike verskille in lewensomstandighede aantref dat julle julleself nie genoeg daaroor sal verbaas nie. As julle daarby nog in aanmerking neem dat daar nog tallose lewende wesens in alle elemente is, dan sal dit vir julle nog duideliker word dat die lewe hom onder die mees verskillende uiterlike omstandighede kan manifesteer en in stand hou. As dit by julle op aarde in materiële opsig al duidelik merkbaar is, hoeveel te meer sal so 'n reël dan nie op ander hemelliggame van toepassing wees nie.

10. Daar is by julle massas diere wat geen minuut lank buite die water sal kan lewe nie, maar daar is ook diere en wesens wat slegs onder die grond in die dik slyk en selfs enkel en alleen in die klippe hulle lewe kan slyt. Sulke slykdiere in die onderaardse peillose dieptes is vir julle tot nou toe nog heeltemal onbekend, maar klipdiertjies soos byvoorbeeld die klipvlieg, die klipspinnekop, die klipby, klippadda en sodanige is al hier en daar deur die natuurondersoekers op aarde ontdek; hulle weet nog net nie dat sodanige diertjies hulle in die klipsoorte self produseer nie, deurdat die lewenskragte, wat ook in die klippe werksaam is, hulle saambundel en hulle as intelligensies op `n natuurlike manier tot vorme ontwikkel nie, volgens die ordening wat die Heer in hulle geplaas het.

11. Ja, as julle die saak net in `n helder daglig sou stel, dan sou julle ontdek dat al die gesteentes, ja die hele wese van julle aarde, niks anders is as stewig saamgepersde materie, wat ontstaan het uit suiwer afgelegde dierlike liggame of lewenslarwes. Ook sou julle sien dat hierdie oerlewenskrag, daar waar dit ietwat vryer geword het, weer aktief word en dat sy uit die ligter, haar omgewende materie, weer `n nuwe vorm ontwikkel waarin sy haarself `n tydjie ophou om die eerste oerlewe in hierdie nuwe ontstane vorm kragtig te versterk.

12. Kyk, so `n wese kan dan goed in sulke materie bestaan, maar sou julle dit in die vrye atmosferiese lug bring, dan sou dit binne enkele minute beswyk. Omgekeerd sou ook die wesens vergaan, wat slegs die vrye atmosferiese lug as lewenselement het. Maar wanneer julle, wat slegs in die atmosferiese lug kan lewe, julle in die buitengewone ligte eter sou begewe, sal julle presies so vergaan as `n vis, wat julle uit die water haal en op die droë grond plaas.

13. So is daar ook in die streek van die eter massas lewende wesens wat vir julle onsigbaar is. Hulle kan slegs in die eter lewe, nie in die lug nie en nog minder in die digter materie. Wesens wat egter in staat is om in die eter te lewe, is ook in staat om steeds meer in die lig te lewe. Hulle het weliswaar onsigbare liggame vir julle, maar desondanks bestaan hulle, en wel in sulke oneindige aantalle, dat julle ewig nooit enige begrip daarvan vir julle sal kan vorm nie.

14. So moet julle hierdie mense dan ook nie met `n grofstoflike liggaam vir julle voorstel nie, maar buitengewone eteries sag en fynstoflik, en in hierdie hoedanigheid kan die lig in haar grootste intensiteit hulle dan ook nie meer skaad nie.

15. Sulke verhoudinge is daar ook in die werklike geesteryk, waar geeste is wat buitengewoon traag en duister is en daarom hulle lewe ook slegs in die digste, binneste dele van die aarde kan slyt. Dan is daar geeste wat ligter is en daarom dan ook die hoëre dele van die aarde, net soos die water, bewoon, waar hulle huishou en hulle lewe slyt. Dan is daar geeste wat in die onderste lugstreke lewe en daar hulle gang gaan. Verder is daar geeste, natuurlik weer volmaakter van aard, wat die hoëre, meer suiwer lugstreke, so ongeveer vanaf die gletsers, bewoon. Dan is daar nog geeste wat die eerste streek van die eter bewoon en dan geeste wat die hoogste en mees vrye eterstreek en die uitgestrekte vrye ruimtes tussen die hemelliggame bewoon, en ten slotte is daar die allervolmaaktste geeste wat die hoogste sfere van die sonne, die ewige lig, bewoon. Die geeste van benede na bo kan mekaar nie sien nie, of duideliker gesê: Die geeste van `n laer trap kan die van `n hoëre trap nie sien nie, maar die omgekeerde is wel moontlik en volgens die ordening, ook gangbaar.

16. Dit is ook noodsaaklik, want sou die laere, onvolmaakte geeste die hoëre, meer volmaakte kan sien, dan sou hulle daardeur in hulle vryheid belemmer word. Die meer volmaakte moet egter die meer onvolmaaktes kan sien, sodat hulle hulle altyd na behore kan beskerm.

17. Uit hierdie beskouing, dink ek, moet dit wel vir julle duidelik word hoe hierdie mense, hier in so `n ligintensiteit, baie goed kan bestaan.

18. Julle het weliswaar voorheen die deur `n hol spieël veroorsaakte uitwerking op die strale van die son aangehaal, maar ek sê vir julle: Dit is waar dat die hoogste intensiewe ligpunt, wat deur `n hol spieël ontstaan, so `n groot krag in homself het, dat dit materie kan oplos; maar waar kom die straal dan vandaan? Nêrens anders as van die deur die hol spieël opgevange beeld van die son nie, dus ten slotte tog van die hol spieël. Nou sou mens tog kan vra hoe kan hierdie straal wel die diamant vernietig, terwyl die veel makliker te vernietigde materie van die hol spieël tog self nie in die minste skade ly nie?

19. `n Nog groter vraag sou wees; te oordeel aan die oplossende vermoë van die ligsterkte van `n brandpunt uit `n hol spieël, moet die son wel op haar eteriese ligoppervlak so `n buitengewone oplossende krag besit, dat `n nog veel groter hemelliggaam as julle s’n op aarde, oombliklik soos `n waterdruppel op witgloeiende yster sou verdamp, sodra dit so `n glansende sonligoppervlak slegs op so `n etlike duisend myl sou nader.

20. Die son self is egter ook `n digte materiële, weliswaar immense groot klont. Hoe is dit dan moontlik dat hierdie klont nie onmiddellik deur die oneindige sterk oplosbare krag vernietig word nie? Kyk, waarom die son self baie goed kan bestaan en ook ander wesens op haar kan onderhou, vind julle uitgebreid uitgelê in die eerste inleiding tot die son, wat Self deur die Heer aan julle meegedeel is. Ek sê dus nog net hier vir julle, dat die lig van `n stralende liggaam altyd na buite, maar nooit na die stralende liggaam terug, met so `n vernietigende krag werksaam is nie.

21. Julle weet egter dat ons onsself hier op `n sentrale son bevind, waarop die lig in `n onmeetbare intensiteit tuis is. Om die rede is alles ook hier so hoogglansend gepoleer, sodat daardeur al die lig wat op die voorwerpe inwerk, ondanks sy immense intensiteit, nagenoeg tot op die laaste druppel teruggewerp word en daardeur nie in `n vernietigende wisselwerking met die objekte kan tree nie.

22. En kyk nou, juis om die rede is die vel van hierdie mense ook so onuitspreeklik sag en is hulle vorme so volmaak moontlik afgerond. Daardeur word die vallende lig op hulle vinnig teruggewerp, sodat dit onmoontlik vernietigend op hulle kan inwerk, net so min as wat van die hol spieël uitstralende lig op die hol spieël self vernietigend kan inwerk, omdat dit deur sy sterk glansende, gepolyste oppervlak teruggewerp word. Die glansende oppervlak van `n liggaam moet hom wel rig volgens die graad van die ligsterkte wat op hom val.

23. Daaruit blyk dan egter dat, op elke wêreld, die in vorme gehulde lewe, onder die daartoe vereiste wette, baie goed denkbaar is.

24. Ek dink dat ons nie veel meer woorde aan die onderwerp hoef te bestee nie, want julle kan uit dit alles wel voldoende aflei dat, ten eerste selfs `n sentrale son, ondanks al haar ligintensiteit, nog baie geskik is om vrye lewende wesens te dra, en ten tweede, die byna voor die hand liggende, dat die menslike wesens wat op so 'n wêreld lewe, baie sag en mooi moet wees, omdat hulle nie daarsonder op so `n wêreld sou kan bestaan nie. – Noudat ons dit weet, kan ons ook wel met hierdie buitengewone mooi mense nader in kontak tree.

Hoofstuk 57 Mobiele weergawe Kommentaar