Titel First edition German English Afrikaans Serbian Slovak Czech Spanish Help
Hoofstuk 2 Skriftekste

`n Teenwerping en sy weerlegging 

(21 Desember 1843 se aand)

[STE 2.1] Mens sou kon sê: “Dit is volkome waar dat lees alleen ware vrugte afwerp deur daadwerklik na dit wat gelees is, te handel; maar as iemand soveel stof aangebied kry, kan hy dit tog gaandeweg tersyde plaas en slegs soveel daarvan lees as wat hy meen hy in dade kan omsit. 

[STE 2.2] Neem nou net die groot hoeveelheid stof van die Ou- en Nuwe Testament en daarnaas die enorme massa waarheidsgetroue Bybelverklarings! As mens dit alles slegs sou lees om ook daarvolgens te handel, sou mens gedurende sy hele lewe hoogstens `n paar hoofstukke kon deurwerk.” 

[STE 2.3] Ek sê egter: Vanuit dié standpunt gesien, het die teenspreker wel deeglik gelyk; want as mens maar net dit wil lees waarvan mens duidelik oortuig is dat hy dit in dade kan omsit, sou `n paar hoofstukke nog te veel wees! Maar van `n ander kant bekyk, is die stof wat aangebied word, nooit te veel nie en kan die leser alles dadelik in praktyk bring. 

[STE 2.4] So sou mens byvoorbeeld ook kon sê: As `n boer `n groot vrugbare akker besit wat hom `n honderdvoudige oes oplewer, waarom saai hy dan nie die hele akker in nie? `n Tiende deel daarvan bring immers al voldoende op om in sy eie behoefte te voorsien. 

[STE 2.5] Maar Ek vra jou: As die boer die hele akker saai met goeie graan en die akker hom `n honderdvoudige oes oplewer, waarvan `n tiende deel genoeg is vir sy eie onderhoud, sal die oortollige nege-tiende deel hom dan skaad? Sekerlik nie! Want die helfte van die oorvloed kan hy verdeel onder behoeftige mense, wat hom baie dankbaar sal wees daarvoor en die ander helfte kan hy na die mark bring. En omdat dit goeie graan is, sal hy baie kopers vind wat `n gunstige prys daarvoor wil betaal, en die verdiende geld kan hy dan gebruik vir sy verdere bedryfsuitgawes en hy sal daardeur `n geagte en ryk boer word.  

[STE 2.6] Wel, uit dié voorbeeld blyk duidelik, dat as iemand `n goeie akker besit en daarnaas oor baie en goeie saad beskik, hy nie suinig moet wees met die saai nie. Want wie ryklik saai, sal ook ryklik oes, maar wie suinig saai, sal suinig oes. En wat is nou daarvoor nodig? As die grond van die akker goed bewerk is, kan jy baie graan daarop saai en geen korrel sal in die goeie aarde verlore gaan nie, maar sal tot `n ryk aar uitgroei.  

[STE 2.7] Netso is dit met hierdie aangeleentheid, wat betref die geestelike saai van die woord, deur middel van die lees. 

[STE 2.8] Vir die bewerking van die geestelike bodem het die mens nie meer nodig as die twee gebooie van die liefde nie; hiermee kan hy sy geestelike akker maklik bewerk. As dit gebeur het, dan kan elkeen net soveel in hierdie akker saai as wat hy kan en wil; oftewel hy kan soveel goeie lektuur in hom opneem, as wat hy maar kan bemagtig - die hele Heilige Skrif en alle bybehorende toeligtings, en hy sal niks daarvan in hom opneem wat nie `n ryk oes vir hom sal oplewer nie.  

[STE 2.9] Want die verskil tussen onvrugbaar en vrugbaar lees bestaan hierin: 

[STE 2.10] As iemand hom byvoorbeeld slegs deur lees sou wil ontwikkel en opwek, dan lyk die werkwyse presies soos die van iemand wat sy saad op `n ongeploegde en onbemeste akker uitstrooi. Sou die voëls dan nie gou daarop neerstryk en die saad binne `n kort tydjie grotendeels oppik nie? En sal die gedeelte wat tussen die onkruid val, nie spoedig daardeur verstik word nie, sodat daar by die oes geen enkele graankorrel in die halms te herken is nie? 

[STE 2.11] Maar as die saaier of leser geen resultaat van sy arbeid sien nie, sal hy dan nie mismoedig word en die akker en al die gesaaide graan wat hom geen opbrengs gee, ten slotte verwens nie?! 

[STE 2.12] In gewone taal: Sulke mense word dan ongelowig, val van die goeie saak af en beskou dit uiteindelik as suiwer bedrog.  

[STE 2.13] Maar dit is baie anders as iemand al sy gees voor dit lewend gemaak het deur die ware liefde tot My en die naaste, of beter gesê, vanuit My vry geraak het en so sy akker goed bemes en geploeg het; hy lees dan die geskrifte van My genade en erbarming, nie omdat dit hom eers tot `n goeie akker sal omvorm nie, maar hy lees dit terwille van My, omdat Ek in sy gees die verlange gewek het om My steeds meer van aangesig tot aangesig te aanskou en daardeur moontlikerwys meer en meer in liefde tot My en daardeur tot die naaste te groei. 

[STE 2.14] Sal hy in die geval nie elke woord van My lewend en ewig waar in homself opneem, as hy nie al vooraf lewend in homself is nie? As hy egter nie vooraf in homself lewend is nie, sal selfs die mees lewende woord dan nie in hom gedood word nie?  

[STE 2.15] Werp goudstukke in `n stinkende poel en die bytende swaelsuur in die poel sal die goudstukke oplos en hulle ook tot vuil modder omvorm. Gooi jy daarenteen onedele metale in egte goudtinktuur, dan sal hulle uiteindelik net so lyk soos die edele goud. 

[STE 2.16] Kyk, dit is ook hier die geval! Sowel deur die lees van My woord, as deur die luister daarna, kan elke mens vir homself en vir sy broeders `n onmeetlike wins behaal, as hy dit vooraf deur die nalewing van die twee gebooie in `n goudtinktuur verander het. As dit egter nog `n modderpoel is, dan sal die goudstukke wat daarin gewerp was, al was dit nog soveel, hulle sekerlik nie tot `n goudtinktuur maak nie. 

[STE 2.17] So staan daar immers ook geskryf: “Want wie het, aan hom sal gegee word en hy sal oorvloed hê; wie egter nie het nie, van hom sal ontneem word, selfs wat hy het!” (Mattheüs 13:12) Met “het” word hier bedoel: In die besit wees van `n goeie, bemeste en geploegde akker, of self `n volkome houer wees vol van die ware goudtinktuur, wat bestaan uit `n vrye, lewende gees. Met “nie het” word egter bedoel: Om saad op `n onbewerkte akker te saai, waardeur die saaier nie net geen oes kan verwag nie, maar ook die saad verloor wat hy gesaai het; of dit beteken ook: In homself `n poel met bytende swaelsuur te wees, wat nooit goudtinktuur kan word as mens goud daarin werp nie, terwyl daardie goud bowendien ook nog verlore gaan.  

[STE 2.18] Ek glo dat dit nou goed duidelik is! Wie nog nie die waarheid by die lig van hierdie fakkel kan insien nie, die sal moeilik ooit van sy katarak bevry word. Omdat die blinde mens, soos Ek reeds gesê het, egter nooit `n oorvloed aan lig het nie, wil Ek ook nog by die ligopbrengs van hierdie son, ten slotte die lig van alle sentraalsonne op `n punt konsentreer, omdat in so `n hewige fel lig des te duideliker sigbaar word wie in alle erns volkome blind is! - Hierna derhalwe `n meer aanvullende uitleg.

Hoofstuk 2 Mobiele weergawe Kommentaar