Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 13 Skriftekste

“Want soos dit was in die dae van Noag, so sal die koms van die Seun van die Mens wees.” (Mattheüs 24:37) 

(11 Januarie 1844 se aand)

1. Skryf maar op wat jy het! 

2. “Want soos dit was in die dae van Noag, so sal die koms van die Seun van die Mens wees.” 

3. Jy het die teks aangegee en alweer die goeie getref; waaroor dit in hierdie teks gaan, is maar al te duidelik, oftewel: Hierdie sentraalson staan baie naby, sodat dit in alle erns verwonderlik is, as jy hierdie nie self op die eerste oogopslag sou gesien het nie, te meer omdat die tyd van Noag nou al byna geheel onthul voor jou lê. 

4. Jy weet hoe ook in Noag se tyd die volkere van die “laagte” allerlei literatuur en wetenskap beoefen het. `n Aan jou bekende koning van die “laagte” was `n groot skrywer. Sy voorbeeld was deur duisende gevolg en binne `n kort tydjie was die toenmalige wêreld deur `n onnoemlike hoeveelheid boeke en geskrifte oorspoel. 

5. Hoe meer hierdie literatuur die oorhand gekry het en hoe meer die mense gaan lees en studeer het, des te killer het hulle harte geword, maar tegelyk het hulle ook des te sofistikeer geword in die uitvind van alle denkbare boosheid.   

6. Die mens het die mense met politiek begin vang en weldra het die mense geen enkele middel meer verafsku nie, al was dit hoe ten hemel skreiend, om een of ander ydel, vooropgestelde, heerssugtige doel daarmee te bereik. Uiteindelik het dit so ver gekom, dat die mens die mense slegs volgens hulle goud gewaardeer het; wie dit nie besit het nie, was as slaaf, ja gewoonweg as lasdier gebruik. Die mens het hierdie gruweldade so ver deurgedryf, dat My geduld uiteindelik heeltemal opgeraak het en Ek die aarde slegs deur `n algemene oordeel vir die ondergang kon behoed.  

7. So het die sake in Noag se tyd gestaan, soos jy redelik goed weet. Maar hoe staan hulle nou? 

8. Ek het jou al enige tyd gelede in die sogenaamde “Twaalf ure*” laat sien hoe die sake daar voor staan. As Ek jou nou weer so `n onthulling sou maak, sou jy baie groot vorderings in die wêreldpolitiek en die wreedheid ontdek. En Ek sê vir jou dat daar nie meer baie nodig is om jou weer geheel in die tyd van Noag te bevind, waar mens ten slotte selfs glashuise gebou het sodat gesofistikeerde politici steeds sonder baie moeite die doen en late van hulle onderdane kon gadeslaan.*(sal nog vertaal word: Lorber Stigting) 

9. Maar hier is geen glashuise nodig nie. Die ondergrondse politiek (geheime organisasies) is ook in julle tyd so ver gevorder dat die mens geen middel onbeproef laat om haar heerssugtige doele te bereik nie. Sou jy in die geheime van menige sulke toestande ingewy gewees het, werklik, dan sou jy met alle mag uitgeskreeu het: “Heer, slaan tog net toe! Want in die diepste hel kan dit nie erger gaan as hier nie!”  

10. Ek wil jou egter nie in sulke geheime inwy nie, want maar net `n klein blik op dié vrugte, verraai dadelik watter mense hierdie profete is wat sulke heerlike vrugte voortbring. En wat is die oorsaak van dit alles?  

11. Laat ons net na daardie koninkryk gaan wat deur die see omspoel word. In dié koninkryk vind jy biblioteke en tydskrifte in sulke groot hoeveelhede dat mens met die blaaie daarvan Europa en Asië drie keer sou kon bedek, en nêrens word soveel gelees as in dié koninkryk nie; maar jy vind ook nie maklik êrens `n groter gevoel oosheid en `n meer volslae harteloosheid, as juis in dié koninkryk nie. Met die grootste onverskilligheid van die wêreld kan `n in weelde baaiende, veelbelese en geleerde grootheid duisend arme, weeklaende brood-, en daklose mense voor sy paleis sien sterf van die honger, sonder om ook maar in die minste daartoe beweeg te word om slegs één van die baie sterwendes `n stuk brood aan te bied. 

12. Vraag: Is dit geen heerlike vrug van groot belesenheid en dikwels grondige matematiese en meganiese kennis nie? 

13. Is dit nie heerlik as mens deur dergelike matematiese en meganiese kennis werkende masjiene kan bou waardeur duisende arme mense op `n slag broodloos word en aan die hongerdood oorgelewer word? 

14. Is dit nie heerlik om spoorweë aan te lê waardeur in die eerste plek `n hele spul vervoerliede en ander ambagsliede hulle verdienste kwytraak, en in die tweede plek juis deur die aanleg van hierdie pragtige weë soveel landerye van die boere verniel word, dat hulle weldra tot die bedelstaf raak? En wat is die ander groot nut van dit wat eers as derde na vore kom, naamlik dat via sulke weë allerlei luukse en daarmee gepaardgaande industrieë des te vinniger kan opbloei, sodat die mensdom des te vinniger liggaamlik en geestelik ten gronde gerig word, en die harte van die rykes so vinnig moontlik so hard word soos die weë waaroor hulle hulle na mekaar verplaas vir hul e handel, ruil en bedrog. 

15. Is dit geen heerlike vrugte van groot belesenheid en daaruit voortvloeiende geleerdheid nie? 

16. Noem mens diegene wat sy verstand gebruik om geld te maak, geen skrander man nie? 

17. Maar juis omdat die verstand soveel geld oplewer, het die liefde heeltemal op `n syspoor geraak, en die handel vanuit hierdie liefde ken mens byna nie meer nie. Want mens het immers genoeg masjiene wat vanuit die verstand ontwikkel en werk; waarvoor dien mensehande dan nog?  

18. Want mensehande sou wel deur hulle werk net by die een of ander groot sakeman liefde vir sy arbeiders kon opwek. Om hom nie aan die gevaar bloot te stel nie, laat mens maar ywerig masjiene ontwikkel, want hulle werk baie vinniger en lê nooit beslag op die hart van die eienaar nie, slegs hoogstens so nou en dan as daar toevallig iets daaraan beskadig het, die skade weer met die verstand te laat herstel, met `n korting op die loon. 

19. Sê maar of dit nie daar by julle presies so gaan nie? 

20. Bedel is verbode; maar die bou van masjiene word met premies beloon. Wat gebeur daar dan later met die armes? O, daarvoor word ook gesorg! Daar is armsorghuise en instellings vir armsorg; daar word insamelings gehou en daar word teatervoorstellings en balle gegee. Daardeur word vir die armes so goed gesorg dat diegene wat in die armsorghuise bly, byna as gevangenes beskou kan word, terwyl die ander, nog vrye armes, maandeliks so `n verbasende bedrag kry, dat hulle hoogstens eenmaal per dag half genoeg daarvan kan eet. Hoeveel so `n arme uit die armkas kry, hoef Ek jou nie te vertel nie; dit weet jy hopelik self. 

21. Vergelyk die menslike behoefte nou net met die bedel en die verbod op bedel; dan word dit vir jou sekerlik duidelik hoe “voortreflik” daar gesorg word vir die armes wat nog die geluk het om iets uit een of ander fonds te ontvang. Maar wat moet word van diegene wat nog geen gehoor by die armsorg gevind het nie?   

22. Kyk net welke heerlike vrugte van die literatuur, die belesenheid en die groot verstandskultuur dit is! 

23. Sou dit dan nie beter gewees het om minder te lees en te leer nie? En dit sou daaruit moet bestaan, dat die mens weet wat die plig van `n mens, ja selfs van `n Christen is! 

24. Sou dit, soos gesê, nie beter wees om volkome volgens so `n beknopte, maar nuttige wetenskap te handel en daarmee die werklike plig van `n mens te vervul, as sy hele lewe te lees en te skryf, maar vergeet om te handel volgens My woord? 

25. Ek het gespreek: “Wees nie net hoorders nie, maar ook uitvoerders van die Woord!” Waar is nou diegene wat daarvolgens handel? Is dit dalk die fabrikante van masjiene en luukse artikels? Of is dit die spoorwerdirekteure en ondernemers? Is dit miskien die industriebaronne of die eienaars van die suikerplantasies in Amerika? Of is dit miskien die geld-, goud- en heerssugtige geestelikes? Waarlik, Ek het tog versiende en skerp oë - en is genoodsaak om vir Myself ook nog `n sterk vergrotende verkyker te vervaardig om diegene daarmee te soek wat My woord op aarde onderhou. By `n triljoenvoudige vergroting slaag Ek nog nouliks, want dan sien Ek nog maar so min, dat Ek nog nie goed kan onderskei of dit `n duisendtal, honderdtal, tiental of heeltemal niks is nie.  

26. Maar daarom het Ek nou `n baie groter verkyker aan die werk! Jy sal sekerlik begryp wat Ek daarmee wil sê, omdat jy self `n bietjie daaraan saamwerk; `n hele sentraalsonskyf moet as objektief dien. Hierdeur wil Ek die aantal mense wat handel volgens My woord presies bekyk. Sou daar dan op die hele aarde nog `n tiental wees, dan wil Ek My oordeel nog duisend jaar uitstel; is hulle egter minder as tien, dan sal Ek My geduld tot aan `n groot algemene oordeel bepaal ooreenkomstig die aantal mense wat volgens My woord handel, - vir elke mens `n jaar. 

27. Mense sal sê: “Heer, daar is tog nog baie opregte mense!” Ek antwoord daarop: “Ja, daar is baie, eenhonderdduisendste, eentienduisendste en eenduisendste, ook wel eenhonderdste mense wat volgens My woord handel. As Ek hulle egter bymekaar optel, kom daar nouliks één uit!” 

28. Hoe kan ditwees? Wat se mens is dit wat honderdduisende besit en jaarliks hoogstens een tienduisendste deel van sy vermoë aan die armes gee en wat tog My woord ken, wat Ek tot die ryk jongeling gespreek het? Vraag: Handel so iemand vir meer as `n tienduisendste volgens My woord? Waarlik, na sulke mense vra Ek nie; hulle sien Ek ook nie in My verkyker nie. Ek sien maar net die heles!  

29. In Noag se tyd het Ek ook so `n kyker opgestel en omdat Ek nie meer as agt mense gevind het wat geheel volgens My woord gehandel het nie, het Ek die oordeel laat voltrek. Ek betwyfel nou of Ek by `n hedendaagse beskouing die aantal uit Noag se tyd sal aantref, omdat politiek en industrie tans al `n baie hoër toppunt bereik het as toentertyd, en wat die alom voorkomende wreedheid betref, is Hanoch geen haar beter nie! Neem die “Twaalf ure” maar en vergelyk! 

30. So is daar nou, netsoos in Noag se tyd, `n ryp vrug van literatuur en van groot belesenheid. Maar daaruit blyk ook duidelik dat die heil van die mense nooit van baie lees en luister afhang nie, maar alleen van handel ooreenkomstig die wet van die liefde! 

31. Ek glo dat dit ook duidelik mag wees; maar vanweë die vergroting van die objektief van My verkyker, die volgende keer tog weer `n sentraalson.

Hoofstuk 13 Mobiele weergawe Kommentaar