Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 195 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 1

Hoofstuk 195

1. Toe ons dit met mekaar gepraat het, het ons ook by die oewer aangekom, naamlik by Kisjonah se landingsplek, van waar ‘n mens direk deur sy groot en mooi tuine na die groot en ruim geboue en woonhuise van Kisjonah kon gaan, waarin daar vir ons ontvangs reeds alles voorberei was. Kisjonah het reeds in die huis van Baram in die geheim van My verneem dat Ek by hom sal tuisgaan, en daarom het hy met behulp van ‘n kleiner vaartuig onmiddelik bodes, met sekere opdragte, huis toe gestuur.

2. Maar wie het ons nog daar aangetref? - Jairuth, die ryk handelaar van Sichar, wat die ou kasteel van Esau besit het en daar gewoon het, en vir Jonael, die reeds bekende owerpriester van dieselfde stad; altwee was deur die engel wat by Jairuth was, daarheen gelei; want daar was belangrike dinge wat hulle met My wou bespreek. En as sodanig was dit ‘n baie aangename verrassing van ‘n eg hemelse soort.

3. Daardie twee was, toe hulle My gesien het, van innerlike blydskap deur en deur aangegryp, en kon geen woord oor hulle lippe bring nie; hulle het hulle hande wat van diepste ontroering en blydskap gebewe het op hulle bors geplaas en het vir My dus met al die liefde van hulle harte gegroet.

4. Maar Ek het vir hulle gesê: “My liewe vriende en broeders! Spaar die moeite van julle tonge; want die woorde van julle harte geld by My in een woord meer as duisend nog so mooi woorde wat deur die tong gepraat word, waarvan die hart dikwels nie veel af weet nie! {mt.06,07; jes.01,15; 1 kÖn.18,26; sir.07,15; jl.ev02.111,04-07; jl.ev03.036,03-05; jl.ev03.112,08-10; jl.ev03.209,03-04; jl.ev04.001,13-15; jl.ev10.032,04-05}

5. Rus eers van die ver en moeilike reis; dan sal Ek vir julle vertel, wat julle tuis alles moet doen, teen die owerpriester en opsigter wat deur die aartssamaritane langs jou, My Jonael, aangestel is, oor die nietige en blinde diens op Gariziem. Maar, soos gesê, veral het julle nou rus nodig, gee dus eers aandag daaraan!

6. Jy, My broer Kisjonah, bring vir hulle verversings en maak gebruik van die dienaar van die twee vriende uit Sichar; want hy is nie moeg nie, en hy sal vir jou vinnige en goeie diens lewer en is reeds so goed met jou huis bekend, asof hy reeds vir baie jare as eerste kneg by jou in diens was. Daarom moet jy sonder om te skroom van hom gebruik maak en laat jou moeë mense ook ‘n bietjie rus; die dag gaan wel na sy einde toe, maar dit sal jou huishouding geensins beperk nie, indien die moeë knegte vandag ‘n bietjie vroeër tot rus gaan as gewoonlik; want daardie dienaar sal vir hulle almal instaan.”

7. Sê Kisjonah: “Here, dat vir Jou alle dinge moontlik is, daarvan is ek mees lewendig oortuig en stem daar heeltemal ooreen met die mening en geloof van ons jong fariseër Ahab; maar hoe daardie mees tere eerder knaap as jongeling al die baie werk kan verrig en ons almal, naby aan die honderd in getal, kan bedien, dit Here, ek twyfel nie in die geringste daaraan nie - bly egter vir my ‘n bietjie te raaiselagtig!”

8. Sê Ek: “Vriend, jy het te min melk, kaas en botter by die huis; maar op jou berge is daar ‘n groot voorraad. Laat eers deur hierdie knaap al jou voorraad van die berge haal; dit is beter as jy die voorraad hier het as wat dit op die berge is, wat vannag deur ‘n horde wilde vreemdelinge besoek sal word, om te kyk of daar ‘n roof uitgevoer kan word.”

9. Sê Kisjonah: “A, nou kom daar by my ‘n liggie op! Daardie knaap sal sekerlik ook een van hulle wees, wat vir ons op die berg bedien het?” Sê Ek: “Nou ja, moet nie lank vra en raai nie, andersins sal dit te laat wees!”

10. Kisjonah gaan nou vinnig na die jongeling en lig hom met alle vriendelikheid oor sy opdragte in. Sê die jongeling: “Wees jy liewe vriend van my Here en God heeltemal gerus; binne ‘n paar oomblikke sal alles in die beste orde wees, want by my is hier en daar en orals een en dieselfde, en onder my voete se beheer, al is ek een van die swakstes, sal nogtans die hele aarde bewe!”

11. Oor sodanige woorde was Kisjonah oorweldigend verbaas en kon vir hom oor die moontlikheid daarvan geen begrip vorm nie en het van al die verwondering skaars agtergekom, dat die jongeling by die laaste woorde die kamer verlaat het, om sy opdrag uit te voer.

Hoofstuk 195 Mobiele weergawe Kommentaar