Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 196 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 1

Hoofstuk 196

1. Kisjonah gaan nou na die voorradekamers en kry alles in die beste orde; al die groot voorrade van melk, kaas en botter was op die bepaalde plekke korrek gestoor, waarna hy na die skure gaan en sien dat hulle vol is; want ook die ryp koring wat op die land gestaan het, was ingebring. Daarna gaan hy na die groot stalle waar die beeste, skape en esels was en sien dat alles op die beste manier georden was! Daarop gaan hy na sy groot ampshuis, kyk na sy boeke en vind orals die beste ordelikheid en kyk ook na die geldkiste en sien dat hulle almal vol was; daarop haas hy hom na die groot kookhuis en gewaar dat daar alles in die regte hoeveelheid en keuse klaar gekook was en vra die kokke, hoe alles gebeur het. Maar hulle kon niks anders vir hom sê nie behalwe: “Daar het ‘n mooi jongeling in die kombuis gekom en het gesê: ‘Plaas die verskillende spyse in die skottels; want alles is reeds op die beste manier voorberei!’ Ons het daarop die spyse ondersoek, en dit was so, soos wat die jongeling wat ons reeds weer verlaat het, gesê het dit sal wees. Proe self sie spyse, en jy sal vind dat dit so is!”

2. Kisjonah proe die kos en stel vas dat sy kokke die reine waarheid gepraat het. Dan gaan hy weer na die groot kamer waar Ek was en die jongeling vra hom: “Wel, Kisjonah, is jy tevrede met my?”

3. Sê Kisjonah: “Daar het al ‘n groot aantal wonderbaarlike dinge in my huis gebeur; ek kon dit nie anders begryp nie, as wat ek dit vir my in my hart hardop moes sê: By God is alle dinge moontlik! Maar dit is tog die mees onbegryplike ding! Om ‘n werk binne een oomblik te kan verrig wat andersins ‘n volle dag van harde werk in beslag sou neem, maar deur die magtige hand van ‘n mens wat met die goddelike gees van God vervul is, soos gesê, binne een oomblik verrig word, dit is begryplik; maar hoe daar honderd verskillende werkstake op verskeie plekke wat ver vanmekaar geleë is, deur een mens in een en dieselfde oomblik verrig kan word, dit is ‘n heel ander saak en is van die kant van ‘n sterflike mens, ten spyte van al sy skerp insig en verstandelike vermoëns , deurgaans nie begrypbaar nie, en ek kan weereens niks anders sê nie as net dit: Here wees my arme sondaar genadig en barmhartig; want ek is dit nie werd, dat Jy onder my dak woning neem nie!”

4. Sê Ek vir Kisjonah: “Kry tog nou eens vir alle maal end, om jouself so baie te verwonder, en laat deur jou mense die spyse inbring; want ons almal het dit nou baie nodig.

5. Indien jy dan so daaroor wonder, wat sal jy dan sê, indien Ek vir jou getrou sal sê, dat op die hele aarde net een engel aangestel is, om alle gras, alle struike en bome, vir elkeen volgens sy manier, vir die groei en vir die voortbring van die mees uiteenlopende vrugte te sorg en werksaam te wees, dieselfde ook vir alle diere in die water, in die lug en op aarde?! Dit sal ook vir jou onbegryplik wees, en sien, tog is en gebeur dit so! Daarom moet jy nie te veel wonder nie, maar gaan en laat deur jou dienaars die kos bring!”

6. Sê Kisjonah: “Here, my enigste liefde en my lewe, hoe sou dit wees, indien Jy dit sou toelaat, dat die jongeling vir my sal help om die groot hoeveelheid spyse in te bring, want my dienaars sal seker ‘n uur lank daarmee besig wees!”

7. Sê Ek: “Goed dan, maak gebruik van hom; maar jy moet net met die te veel verwondering wegbly; want jy weet dit mos, dat by God alle dinge maklik moontlik is!”

8. Met sodanige opmerking is Kisjonah ten volle tevrede en vra die jongeling wat hom nog steeds baie liefdevriendelik aankyk, dat hy hom moet help om die spyse wat reeds voorberei is, vanaf die kombuis hiernatoe te bring.

9. Sê die jongeling: “Net nie so baie verwondering nie, my liefste vriend! Kyk net na die tafels! Dit het reeds gebeur, toe jy nog in begrip was, om die Here van alle heerlikheid om hulp te vra. Maar waar is die wyn?”

10. Sê Kisjonah, deur vlugtig na die tafels te kyk en in die geheim by homself hoogs verbaas te wees: “Waarlik, amper het ons die wyn vergeet! Sal jy so goed wees, om ook die wyn uit die groot kelder hiernatoe te bring?”

11. Sê die jongeling: “Kyk! Alles is reeds weer in die beste orde, die wyn staan in regte hoeveelhede op die tafels langs die spyse.”

12. Kisjonah kyk na die veertig groot tafels, wat in die groot eetsaal opgestel en op die beste manier gedek was, en daar het niks gekort nie; stoele en banke was in die mooiste rangskikking opgestel en die ligte ter verligting van die aand se skemer was volgens die regte aantal op alle tafels opgesit en het reeds met rein vlamme gebrand om lig te verskaf!

13. Toe Kisjonah na alles gekyk het, is hy oorbluf van innerlike verwondering en sê na ‘n rukkie: “O God, o God, Jy my Jesus, Jy my ewige liefde! Indien dit so aanhou, sal vandag nog al my huise uitmekaar loop en al die hout en klip daarin sal lewendig word!” - Deur hom aan die jongeling te wend: “Jy my teer jong man of engel, of wat jy ook al mag wees, verduidelik tog net ‘n bietjie vir my, hoe dit vir jou moontlik is!”

14. Sê die jongeling: “Jy is wel baie nuuskierig; ek sê vir jou: Vir my is niks moontlik nie sonder Hom wat nou in hierdie wêreld by jou woon; Hy alleen verrig al hierdie dinge! Maar hoe dit vir Hom moontlik is, dit moet Jy vir Homself gaan vra; want die krag in my om so te handel, is nie my eiendom nie, maar ‘n eiendom van die Here, wat in jou huis woning geneem het. Gaan dus na Hom toe en vra Hom!”

15. Sê Kisjonah: “Dit, liewe vriend, weet ek baie goed; maar net die manier en wyse, hoe so iets moontlik is, is dit waaroor ek ‘n klein wenk wil hê. Jy moet tog ‘n beweging maak!? Maar hoe vinnig en seker moet die’ nie wees nie! Want ‘n weerlig is klaarblyklik ‘n slakkepas in vergelyking daarmee! A, a, ek kan glad nie meer daaraan dink nie! As jy vir al dit ten minste net eenhonderd oomblikke tyd sou gebruik het, dan sou die saak nog begryplik kon wees; maar so - alles dit sonder enige merkbare tydsverloop, en daarby nog in die grootste oorde te verrig, is dit wat vir my uit my gewone denkvermoë lig en ek nou van al die eerbied en bewondering dit skaars waag om asem te haal!”

16. Sê Ek vir Kisjonah: “Nou vriend, is jy met jou verwondering nog nie klaar nie? Ek meen, ons moet nou eers aan tafel gaan sit, die aandete inneem en daarna die verdere punte van die almag van God en die’ se mees beslissende liefde en wysheid bespreek!”

17. Sê Kisjonah: “Here, vergewe my! Van al die verwondering oor verwondering sou ek byna vergeet het, waarom die spyse en drinkgoed op die tafels staan; daarom vra ek vir Jou en almal wat saam met Jou is, om julle plekke by die tafels in te neem! Maar waarheen het Jou liggaam se moeder, Maria, en Jou susters gegaan, sodat ek hulle vir die aandete kan gaan haal?”

18. Sê Ek: “Vra eers waar jou vrou en dogters is! Waar hulle is, daar is ook die goeie Maria met die dogters van Josef, wat My aardse pleegvader was. Hulle is nou met mekaar voluit besig, sodat hulle vandag nog alles kan bekyk, waarvoor hulle natuurlik ook môre, oormôre en nog langer tyd sou hê! Ons jong en flukse dienaar sal hulle wel almal hiernatoe bring, en jy hoef jou nie oor hulle te bekommer nie!”

Hoofstuk 196 Mobiele weergawe Kommentaar