Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 239 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 10

Kritiek op die voedselvoorskrifte van Moses

1. (Die herbergier:) “Waarom eet die Judeërs eintlik geen varkvleis nie, wat tog duidelik beter is as skaapvleis? Waarom het Moses hulle dit verbied? Ons Romeine verstaan die kuns om die vleis van varke goed voor te berei, ons eet dit en ons word ouer as die Judeërs.

2. Ek dink dat die goeie Moses met daardie verbod `n grap met die volk gemaak het. Hy was in alle Egiptiese misterieë ingewy en het goed ingesien dat sy stamgenote in Egipte louter varke geword het, en ons Romeine maak grappies daaroor en sê: Moses het ingesien dat die volk tot die allerlaagste diepte van vuiligheid verval het, en om te sorg dat dit nie nog vuiler word nie, mog hulle geen varkvleis geëet het nie, omdat hulle tog al vuiler was as die smerigste varke. En ek dink dat Moses heeltemal gelyk gehad het; want daardie volk in Egipte het aan niks anders gedink as om één stuk deur te vreet nie. Daar was ten slotte geen enkele dier meer veilig voor hulle vraatsug nie.

3. Maar Moses, wat immers self `n Israeliet was, het erbarming gehad met die volk, en het vir alles reëls opgestel om die volk tot sy vroeëre gesondheid en nugterheid terug te bring; want hy, wat in alle Egiptiese wetenskappe en geheime ingewy was, was baie goed bewus wat hy moes doen om sy volk, wat in elke opsig laer geraak het, in alle opsigte te red, en hy het dus ook `n voorskrif gemaak oor wat hulle wel en nie mog eet nie.

4. In Egipte was, soos al eerder opgemerk, geen dier veilig voor hul vraatsug nie, alle soorte voëls in die lug, alle soorte diere op die aarde en alle soorte diere van die see het gevaar geloop, terwyl die ou Israeliete en ook die ou Egiptenare niks anders tot hulle geneem as net die vleis van koeie, kalwers, osse en bulle, hoenders, lammers en bokke, enkele soorte goeie vis, brood en wyn nie, en volkome gesond daarby gebly het. As die ou Egiptenare en ook die ou Hebreërs netsoos ons Romeine geweet het hoe jy varkvleis so moet voorberei, dat dit die liggaamlike gesondheid nie skaad nie - netsoos die vleis van verskillende ander voëls en ook diere, soos herte, reebokke, gemsbokke en hase - dan sou hulle daarby ook gesond gebly het, netsoos ons.

5. Maar Moses was, wat sy opvoeding aanbetref, `n Egiptenaar, en het dus ook by sy volk, nadat hy hulle uit die kloue van die farao gered het, `n lys met voedingsmiddele ingevoer, wat aan die hof van die farao, waar hy geleef en opgevoed was, algemeen gebruiklik was. Hy het die lys met voedingsmiddele - onder ons gesê, my beste, wonderbaarlike Vriend - weliswaar `n goddelike tintjie gegee, omdat hyself in baie noue verbinding met die Godheid sou gestaan het, en hy sê selfs dat iemand hom ook, wat sy siel betref, sou verontreinig, as hy ander voedsel tot hom sou neem as wat hy voorgeskryf het. Dit het hy waarskynlik gedoen om sy volk des te bestendiger nugter te hou; maar tog was hy daarna in die Arabiese woestyn meer as veertig jaar druk mee besig, voordat hy die volk sover geskool het dat hulle alleen by hierdie voorgeskrewe spyse gebly het.

6. Maar daarmee het hy egter nie veel gewin nie, as ons Romeine dit beoordeel; want hy het die volk te sterk en te streng gewend aan die hou van die uiterlike norme en hy het hulle laat glo dat mens ten aansien van `n uiters rein, goeie en almagtige Godheid al heeltemal genoeg gedoen het as mens slegs die uiterlike wette in ag neem - en ek moet U eerlik sê, my beste, wonderbaarlike Vriend, dat hy sy volk daarmee nie `n hele nie, maar slegs `n halwe weldaad bewys het.

7. Die beste wette wat hy gegee het, was die waarmee hy die volk weer met sy God van Abraham, Isak en Jakob bekend gemaak het.

8. Wat egter die wonderlike lys met voedingsmiddele, asook die oeroue, weer opgefriste besnydenis betref, daarmee het hy, volgens my opvatting, nie die beste bewerkstellig nie; maar hy was oor die algemeen van goeie wil en het vir homself, as bevryder van die volk, `n ewige gedenkteken gevestig. Maar as hy sy volk meer met die wysheid van die ou Egiptenare bekend gemaak het, as wat hy gedoen het, sou hy by sy volk `n beter doel daarmee bereik het as met die verbod om goed toebereide varkvleis te eet.

9. En ek het die indruk dat dit ook die oorsaak daarvan was, dat die volk Israel, soos dit in hierdie huidige tyd lewe, so diep gesink het. Watter raad sou U, wonderbaarlike Heer, die mense gee, met betrekking tot die vraag wat `n mens al dan nie, mag eet?”

Hoofstuk 239 Mobiele weergawe Kommentaar