Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 242 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 10

Die verdraagsaamheid van die Romeine

1. Ek sê: “My beste vriend, wat die wêreldse denkwyse van die mense betref, het jy volkome gelyk, maar wat die geestelike betref absoluut nie; want vir die gees is daar maar één enkele waarheid, en dit is: Die een, ware God te ken, Hom bo alles lief te hê en sy naaste soos homself. Dit is beter as alle kennis van die aarde, en daarvoor is `n menslewe altyd lank en goed genoeg.

2. Wie in hierdie een waarheid ingewy word deur die gees van liefde in sy hart vanuit God, sal ook binne `n baie kort tyd meer wysheid en kennis in homself besit as alle boekeversamelings op die hele aarde, waarvoor Ek kan instaan. Maar vandag is dit nie die tyd daarvoor om jou op daardie gebied verder binne te lei nie; môre sal jy in alles verder ingewy word, veral op dié gebied - en as jy op daardie gebied geheel en al ingewy is, sal jy weinig ander dinge meer te vra hê!”

3. Terwyl Ek en die Romeinse herbergier dit met mekaar bespreek, maak `n fariseër die deur oop, kom die kamer binne, loop onmiddellik na ons tafel toe en sê: “My vriende, volgens ons sandloper het ons nog `n ander halfuur tot middernag, en omdat ons julle gesprek oor Moses en die profete en oor nog allerlei ander dinge gehoor het, en omdat ons fariseërs ook weet dat die Romeine nie dikwels baie skrander en ervare mense is nie, wat ons Judese geskiedenisse nie selde beter begryp as onsself nie, het ek die vryheid geneem om by julle binne te kom om hier met julle ook `n bietjie saam te praat. Julle sou my weliswaar daarvan kan beskuldig dat ek besonder brutaal is; maar ek weet dat Romeine hoflike mense is, wat ook `n fariseër laat spreek, op sy minste vraenderwys, hoewel nie lerend nie!”

4. Dit was wat hierdie fariseër gesê het.

5. Die herbergier sê: “Ons Romeine luister na alles wat iemand na vore bring - vooropgestel dat ons merk dat daar gees en verstand in sy woorde aanwesig is - en ons is ook vriende van elke mens wat dit in die algemeen met ons en ook met alle ander mense redelik goed meen, en hy het in ons geselskap ook die reg om te praat, of hy nou `n Griek, `n Judeër, Arabier, Pers of Indiër is.

6. Maar julle opvattings in Jerusalem oor die egte waarde en die egte waardigheid van die mense verskil dikwels hemelsbreed van die van ons; want alle mense wat nie netsoos julle verstokte Judeërs is nie, beskou julle as deur julle God veragte sondaars. Ons Romeine staan heel ver van so `n opvatting af, want by ons geld: “Leef eerbaar, gee elkeen syne en bring niemand skade toe nie!” By die wyse van denke en handel is elke dus mens gelyk, uit welke streek van die aarde, naby of veraf, hy ookal kom. Ons beskou niemand as `n sondaar nie, behalwe diewe, rowers en moordenaars en ook diegene wat moedswillig in stryd met die wet handel.

7. Wat origens die geloof in een of ander god betref, laat ons elke mens by sy geloof, of daar nou waarheid, of leuens daarin steek - want elke mens moet lewe, sterf en salig wees volgens sy geloof; al die oorblywende laat ons oor aan die magte, wat die aarde, die son, die maan en alle sterre geskape het, en daar het nog nooit `n wyse man sy stem teen ons grondbeginsels verhef nie.

8. Ons staan wel algemeen bekend as `n krygshaftige en uiters dapper volk, en die Romeinse septer voer nou die gesag oor meer as die helfte van Europa, half Afrika en half Asië; maar ons het nog nooit met ons wapens te velde getrek teen `n volk wat ons met rus gelaat het nie. Maar as `n volk dit gewaag het om ons te bedreig en ons rus en orde begin te verstoor - dan oorval ons daardie volk met ware leeuemoed, oorwin hulle en maak hulle aan ons onderdanig en skatpligtig, soos ook julle Judeërs en ander Asiatiese volkere tot aan die grense van die groot Indië. Maar wat die verering van hul gode aanbetref, het ons hulle almal, netsoos julle Judeërs, by hulle leer gelaat, en ons het in Rome, netsoos in Athene, selfs tempels vir hul gode gebou, wat julle Judeërs nie gedoen het nie.

9. Ons kan met ons groot verdraagsaamheid ook `n fout gemaak het; maar ek het altyd die indruk dat ook ons verdraagsaamheid in daardie opsig tot die gebied van ons grondbeginsel behoort, waarvolgens mens vir elkeen syne moet toestaan en laat. Alles wat bo dit uitgaan, moet aan `n hoër, goddelike wysheid oorgelaat word en bly.

Hoofstuk 242 Mobiele weergawe Kommentaar