Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 110 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 2

Hoofstuk 110

1. Reeds vroeg die oggend van die volgende dag, was die hele plek weer vol van allerlei siek mense.

2. Ebahl het na My toe gekom en gevra dat Ek hom moet help; want hulle het die plek voor sy huis sodanig volgestaan, dat geen mens in en uit kon gaan nie. Hy het ook die kaptein buite gesien wat graag in die huis wil inkom, maar as gevolg van die dig teen mekaar geryde siekes nie kan deurkom nie!

3. Toe het Ek by die deur van die huis gaan staan, het My hande oor die siekes gehou, - en hulle was almal op eenslag gesond, het van vreugde geskree en het vir God in die hoogte wat vir die mens sodanige mag verleen het, geloof en geprys!

4. Maar Ek het hulle gevra om stil te bly en om huis toe te gaan en om voortaan die sonde te vermy! En almal was gehoorsaam en het huiswaarts gekeer.

5. Daarop het Ek vir Ebahl gesê: “Indien gedurende die dag nog meer mense opdaag om hulp te kom soek, dan moet hulle nie op die straat, maar op die groot grasperk anderkant die straat hulle plekke inneem, waar hulle ook gehelp sal word; maar diegene wat op die straat sit en wag, sal nie gehelp word nie! - Daarop het Ek dan die grasperk geseën, en elke siek persoon wat die grasperk betree het, het onmiddelik gesond geword.

6. Maar op daardie dag het uit alle stede, markte en dorpe ‘n paar honderd siekes opgedaag, en van almal was daar nie een wat nie genees was nie.

7. Die twee Esseners het van uur tot uur groter oë gemaak, en die etlike fariseërs en skrifgeleerdes het van uur tot uur meer kwaad geword, aangesien hulle aansien ook van uur tot uur tot op nul gedaal het; want daar was glad nie meer vir hulle gekyk nie en niemand het vir hulle iets gevra nie, en Ebahl se mense het van tyd tot tyd vir laat verstaan dat hulle nou in die huis heeltemal oorbodig geword het, en, aangesien dit ‘n goeie tyd was, hulle wel na Jerusalem kon trek. - Maar hulle het sodanige raad nie aanvaar nie, en het eerder hier gebly.

8. Na ‘n rukkie het een van die fariseërs na My toe gekom en het vir My gevra, of daardie grasperk voortaan daardie eienskap sal behou.

9. Sê Ek: “Net vir vandag, tot by sononder!”

10. Sê die fariseër: “Waarom dan nie vir altyd nie?”

11. Sê Ek: “Omdat daar sekere mense is, wat sodanige grasperk binnekort met ‘n hoë omheining sal toekamp en van hulle, wat gesond sal word, baie goud en silwer sal verlang; en omdat Ek dit nie so wil hê nie, bly die grasperk net tot vanaand heilbringend, terwyl die aandrang van mense baie groot is. - Môre, wanneer net ‘n paar mense hiernatoe sal kom om genees te word, sal hulle deur hulle geloof en deur hulle vertroue genees word!”

12. Op hierdie My verduideliking het die vraers vol ergernis hulle rûe op My gedraai en het die res van die dag oor niks meer gevra nie; maar des te meer ywerig het die twee Esseners vir My besig gehou.

13. Die kaptein het as gevolg daarvan vir die twee Esseners kwaad geword en sou graag vir hulle gesê het, dat hulle nou reeds genoeg met My gepraat het; maar ter wille van My het hy hom met alle geweld ingehou.

14. In die namiddag het Ek die twee aan Matteus en My ander dissipels verwys, waaronder hulle na ‘n rukkie vir Bartholomeus raak gesien het en ‘n groot vreugde oor hom gehad het, aangesien hy soos bekend, ook ‘n Esseër was. Die twee het dan tot oor middernag met My dissipels oor My leringe, My dade en oor My goddelike wese gepraat.

15. Maar in die namiddag het Ek met die kaptein en met Ebahl en sy gesin na die deurgang van die meer gemaak, waar die agt skeepsknegte die skip bedien het en die skip, omdat dit hier en daar ‘n paar stukkende plekke gehad het, met groot ywerigheid baie deeglik herstel het. Toe ons by hulle kom, was hulle vol blydskap en het vir die kaptein vertel, hoe Ek op die water geloop het. Want daardie verskynsel het vir die agt glad nie uit die kop en gemoed gegaan nie.

16. Toe die kaptein dit verneem het, het hy vir My gevra hoe dit moontlik kon wees.

17. En Ek het vir hom gesê: “Ek het dit mos gister vir jou gesê, watter magte aan My onderdanig is en vir My moet dien! Hoe kan jy dan nog vra? Maar as jy wil en dit waag, om jou voete op die water te plaas, en Ek dit so wil hê, dan sal jy ook daarop kan rondloop, vir solank Ek dit so wil hê! As julle almal graag wil, dan sal ons onmiddelik ‘n poging aanwend! Maar julle moet nie twyfel nie, en moet met hart en moed vir My volg!”

18. Sê die kaptein: “Dit sou alles reg wees, indien die meer hier langs die oewer nie onmiddelik so diep sou wees nie! Oor die hele afstand van bo tot onder val die bodem byna loodreg na ‘n onbekende diepte! Een van die eerste treë kan dalk tog misluk, - en ‘n mens sou daar land waar die groot see-ongediertes en salamanders woon!”

19. “Kleingelowige”, het Ek gesê, “ meen jy dan dat Ek dit sou waag om onverskillig te wees, as Ek nie sou weet, wie Ek is nie, en wie alles aan My wil onderdanig moet wees? - Wie van julle moed en geloof het, die volg vir My!”

20. Hierop het Ek op die meer se oppervlakte getree, - en dit het vir My soos die vaste land gedra. Ek het dus tien treë van die oewer af wegbeweeg, het omgedraai en het die geselskap genooi, om na My toe te kom; maar hulle het dit nie gewaag nie.

21. Toe het Ek die jongste, twaalfjarige dogtertjie van Ebahl geroep, en die meisie het moed gekry en het aan die begin die eerste voet versigtig op die water neergesit. Maar toe sy haar oortuig het dat die water nie padgegee het nie, maar vir die voet soos ‘n klipvloer weerstand gebied het, het sy onmiddelik begin om na My toe te hardloop, en het ‘n groot vreugde daaroor gehad, dat die water vir haar gedra het!

22. Na die meisie het dan ook die ander dit probeer, en behalwe vir die kaptein, het almal hulle nou vol blydskap op die water se oppervlakte bevind, wat natuurlik op hierdie stadium baie stil was.

23. Die kaptein, vol van verbasing en tog reeds met ‘n bietjie moed, het vir My gevra: “Hoe sou dit gaan as ‘n storm sou opkom?”

24. Sê Ek: “Kom en oortuig jouself!”

25. Uiteindelik het ook die kaptein probeer, om ‘n voet op die water te sit en toe hy daarvan oortuig was dat die water nie padgegee het nie, het hy ook baie versigtig die tweede voet opgesit, en het dan met ingehoude asem die tien treë na My toe gemaak en was baie gelukkig toe hy by My op ‘n soort bodem gestaan het wat hy nog nooit vantevore betree het nie.

26. Maar Ek het gesê: “Nou, aangesien julle oortuig is, dat vir die vasgelowige ook die water ‘n vaste bodem bied, sal ons ons uitstappie verder voortsit!”

27. Die kaptein sou eerder graag na die oewer teruggegaan het; maar die uiters vrolike ses dogters van Ebahl het deur hulle plesierige heen- en weer lopery vir hom moed gegee, sodat hy saam met ons tot by vyfduisend treë ver op die reeds taamlik hoë meer gaan stap het.

28. Toe het skielik ‘n taamlik heftige wind opgekom en het begin om groot golwe te dryf. Almal het begin om bang te word en die kaptein het vir My gesmeek dat ons moet omkeer.

29. Maar Ek het gesê: “Moet nie bang wees nie! Die golwe saam met die wind kom mos net, om vir jou te oortuig, dat ook hulle aan My gehoorsaam moet wees.”

30. Maar na ‘n kort tydjie, toe die golwe steeds groter geword het, het die kaptein omgedraai en het so vinnig as wat hy net kon begin om te hardloop, het na ‘n rukkie veilig die oewer bereik, en was na verskeie koorsagtige bewerasies uiters bly, om weer ‘n ondeursigtige, vaste bodem onder sy voete te hê. - Maar ons het kort daarna ook terug gegaan en het by die verbaasde kaptein aangekom.

Hoofstuk 110 Mobiele weergawe Kommentaar