Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 138 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 2

Hoofstuk 138

1. Sê Jarah: “Ek het dit wel verstaan, - maar daarom is die saak nogtans vir my en vir al die ander mense baie hartseer; want uit duisende sal skaars een die volle krag hê, om uit homself die wêreld te kan teenstaan soos dit vir Jou welgevalle sal wees!”

2. Sê Ek: “Daarom het Ek mos na die wêreld toe gekom, om deur My lering en deur My dade vir elkeen die middele in die hand te gee, waarmee hy met net ‘n bietjie moeite die wêreld kan oorwin!”

3. Sê Jarah: “Sou alles reg wees, - maar daar bestaan op die aarde nog ‘n groot hoeveelheid mense wat van Jou woord dalk eers oor ‘n duisend jaar iets sal verneem! Waarmee sal hulle vir hulle gedurende daardie tyd teen die aandrang van die wêreld beskerm? Hulle is tog net so goed mense soos die Jode!”

4. Sê Ek: “Met die volkere van die aarde gaan dit soos met die verskillende kinders van ‘n vader: sommige wat vroeër in die wêreld gebore is, word deur die vader anders hanteer as hulle wat skaars eers twee, drie, vier en vyf jaar gelede die lig van die wêreld aanskou het. Die oudste seun het reeds ‘n man vol krag geword en ‘n dogter is reeds hubaar; dan is daar nog ‘n paar kinders in jou ouderdom en lê daar nog drie in die doeke. Sê vir My of die vader verstandig sou optree indien hy met die kinders in die wieg op dieselfde wyse te werk sou gaan soos die seun wat reeds tot ‘n kragtige man opgegroei het!?”

5. Sê Jarah: “Dit sou natuurlik nie baie wys wees van sodanige vader nie!”

6. Sê Ek: “Kyk nou, dit is ook daarin geleë waarom sommige volkere eers later by My leringe uitkom! Hulle is nou nog nie ryp daarvoor nie; maar op die regte tyd sal hulle wel ryp word, en dan sal ook My lering by hulle uitkom. - Verstaan jy dit?”

7. Sê Jarah: “O ja, dit verstaan ek baie goed; maar watter lot wag dan in die hiernamaals op daardie volkere van hierdie aarde wat nou nog nie ryp is nie?”

8. Sê Ek: “Dit sal jy sommer nou te siene kry! Kyk daar, teen die middernagtelike deel van die hemel staan daar ‘n ster met ‘n rooierige ligskynsel; neem hom soos vroeër in die oog van jou gemoed en rig ook jou aardse oog daarop, en jy sal op daardie ster die mooiste antwoord op jou vraag kry!”

9. Jarah doen dit ook onmiddelik en sê reeds ‘n paar oomblikke later: “O Here, Jy die almagtige Skepper van alle hemele en wêrelde, dit is dan nog ‘n baie groter wêreld as wat daar was die vorige een, en deur watter heerlike lig word sy omvloei! Maar die lig is van ‘n helder rooi kleur met ‘n klein oorgang na goudgeel, terwyl die lig van die eerste wêreld heeltemal wit was. Maar nou word ook die lig van daardie wêreld ondraaglik sterk! A, nou staan ek reeds op die lewendige bodem van daardie wêreld! O, dit is onbeskryflik heerlik! Watter veelvoudigheid! Mooi berge met sagte hellings omsluit die heerlikste, vrugbaarste valleie. In die valleie kan ‘n mens ook ‘n soort hutte sien wat bloot net ‘n dak het, wat deur ordelik gespasieerde suile, wat soos robyne skitter, gestut word; maar op die kruine van die berge staan daar sonder onderbreking onafsienbare rye van daardie hutte, en so ver my blik kan sien, sien ek ook niks anders nie en daar lyk een hut soos die volgende, soos by die mens die een oog soos die ander. Soos ek nou agterkom, rus die langerige ronde dakke almal op suile van robyne wat sewe manslengtes hoog is; maar daar is ook een suil soos die ander! Van mense en ander lewendige wesens het ek nog niks ontdek nie; maar hulle moet nogtans hier wees, - want daarvan getuig reeds die bewerking van hierdie uiters ver uitgestrekte landerye!

10. Maar dit is tog eienaardig dat in hierdie andersins oorheerlike wêreld alles eenders lyk! Een vrugteboom lyk op een haar dieselfde as die volgende een, en een blom soos die ander; alles is in rye geplaas en vir geen prys in die wêreld kan jy iets buite die orde kry nie.

11. Alles lyk wel wonderbaarlik heerlik en bied ‘n vriendelike aanblik; maar mettertyd sal hierdie ewige eenvormigheid vir ‘n mens van ons soort tog moet verveel! Maar nou het ek voor een van die hutte beland, en sien, daar is mense, presies net soos ons, daarin! Een van hulle staan op ‘n verhoog en preek en verskeie honderde luister met groot aandagtigheid na die preek!

12. Daar in die aangrensende hut sien ek verskeie mense in plooiklere gehul wat aan ‘n ryk gedekte tafel sit en eet; maar rondom die spyse staan net so baie wat lyk asof hulle honger is, en hulle kry niks om te eet nie! A, daar in die derde hut sien ek nou ‘n paar allermooiste meisies! Hulle is heeltemal kaal en maak met ‘n paar mans wat weinig te sê het, grappe en loop op en af; in die agtergrond staan ‘n groot aantal jongelinge wat baie lustig blyk te wees en gee vir die mooi meisies tekens, om ook na hulle toe te kom, om ook met hulle ‘n bietjie pret te hê. Maar die jongelinge word nie gehoor nie en dit lyk asof hulle nie baie bly daaroor is nie.

13. A, dit is tog baie merkwaardige huisreëls! Net soos uiterlik een hut op een haar dieselfde lyk soos die volgende, net so lyk dit dat die bedrywighede van die mense baie uiteenlopend is, en dit is tog sekerlik ook baie merkwaardig!? Maar indien dit op hierdie ongelooflik groot wêreld so lyk soos in hierdie omgewing waar ek vir my nou bevind, dan hou ek meer van ons klein aarde - behalwe vir die bose mense!”

14. Sê Ek: “Alles dit wat jy nou sien, is net ‘n klein skool- en inoefeningsgebou vir die selfverloëning en om jou self te oorwin. Wandel nou met jou gemoedsoë verder, en jy sal vinnig iets anders sien!”

15. Jarah doen dit en het so hard begin skree dat die slapendes amper wakker geword het, indien dit nie was vir My wil wat hulle weer laat slaap het nie.

16. Op grond van die geskree van Jarah het Ek vir haar gevra, waarom sy dan so skree.

17. Sê Jarah: “O Here, die prag, daardie majesteit, oorbied weer alles wat ooit ‘n mens se sintuie kan begryp! Daar staan ‘n paleis so groot en hoog soos op die aarde die hoogste en grootste berg! Die mure is van die mooiste edelgesteentes gebou. Duisende en weereens duisende goue trappe en galerye versier van buite hierdie ongelooflike paleis, wat by sy hoogste hoogte ‘n skerp punt form. Rondom hierdie paleis pronk die heerlikste tuine, waar die grootste verskeidenheid die oog aanhoudend tot hernude bewondering uitdaag; in die tuine kom daar ook baie mooi mere voor, waarop waarskynlik vir die plesier, ‘n groot hoeveelheid wonderbaarlike kunswerke ronddryf, maar deur niemand gestuur en nog minder enige aandag kry nie.

18. Here, wat beteken dit alles? Wie is die bewoners van hierdie ongelooflike paleis, en waarvoor dien hierdie op die mooi mere vrylik drywende kunswerke van alle soort?”

Hoofstuk 138 Mobiele weergawe Kommentaar