Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 1 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 3

Hoofstuk 1

(Jesus in die omgewing van Césarea Philippi)

1. (Julius:) “Daar het by die Grieke en die Romeine nog altyd mans bestaan, wat, alhoewel hulle geen Jode was nie en ook nie in die profeetskole opgelei was nie, nogtans ‘n goddelike inspirasie gehad het en dit as sulks aanvaar het.

2. Op ‘n dag toe Krösus, koning van die Lidiërs, teen Persië oorlog wou maak, was dit baie belangrik vir hom, om vooraf te weet, of die oorlog vir hom gunstig of ongunstig sal verloop. Maar wie sou vir hom daaroor ‘n lig gee? Hy het dus by homself gedink en gesê: ‘Daar bestaan ‘n groot aantal orakels; een van hulle sal tog sekerlik die waarheid kan vertel! Maar wie sal my kan sê, watter orakel die waarheid vir my sal vertel? Ha!’ het hy verder by homself gedink en gesê: ‘Ek sal die orakels voor die tyd eers toets, en dit sal dan wys, watter orakel gebruik kan word!’

3. Daarop het hy ‘n lam en ‘n skilpad geneem, het altwee in klein stukke gesny, het hulle saam in ‘n pot gegooi, het die pot met ‘n ysterdeksel toegemaak en het die mengsel op die vuur gesit, sodat dit moes kook. Maar voor dit het hy verkenners na Delfi, na Abä in Phokerland, na die ou Dodona, ook na Amphiaraos en Tophonios gestuur, om op die honderdste dag na vertrek uit Sardis die orakel te vra, waarmee hy op die oomblik besig was; want op daardie tydstip het hy juis sy lam en skilpad op die voorafgaande manier gekook.

4. Die meeste orakels het so verwarrende antwoorde gegee, dat niemand daaruit kon slim word nie; maar die orakel in Delfi het soos gewoonlik in heksameters gepraat:

5. ‘Sien, ek tel die sand, die see se afstand ken ek, kan selfs die stomme hoor, en die wat swyg kan ek hoor! Daar kom nou ‘n reuk in my sintuie, asof daar nou lamsvleis gemeng met skilpad gekook word; daar is yster onderkant en yster bokant geplaas.’

6. Na hierdie toets het hy die orakel van Delfi gevra, of hy teen Persië moet trek, maar het die bekende antwoord gekry, dat, indien hy oor die Halys trek, ‘n groot ryk vernietig sal word! En hy het vir die derde keer die orakel gevra, of sy heerskappy vir lank sal bestaan. En Pythia het geantwoord:

7. Wanneer op ‘n dag ‘n muil vir die koning sal gebied, dan, sagvoetige Lidiër, vlug na die Hermos van klip! Moet nie wag nie, en moet ook nie vir die smag van vryhartige haas bang wees nie!’

8. Volgens die orakel se eie vertolking, wat nadat Krösus gevange geneem was bekend geword het, het die muil, Cyrus, sy oorwinnaar beteken, omdat die’ deur ‘n gesiene Medervrou, ‘n dogter van Astyages en ‘n Persiese vader, wat onderdanig aan haar was, verwek was.

9. Juis daardie Krösus het ook op ‘n dag die orakel gevra, of sy seun, wat stom was, nie sal kan genees word nie, en hy het die volgende antwoord gekry:

10. ‘Lidiër, alhoewel ‘n magtige vors, tog met ‘n dwase hart, moet nie wens om die stem van jou seun waarvoor jy pleit, te verneem nie! Dit sal jou beter vroom! Weet dat hy eers op die mees ongelukkige dag sal praat!’

11. En sien! Op die dag, toe Sardis verower was, het ‘n verwoede Persiër op Krösus afgestorm, om hom dood te maak. Toe het die vrees en angs vir die seun sy tong loagemaak, en die seun het gesê: ‘Mens, moet nie vir Krösus doodmaak nie!’ Dit was die stomme seun se eerste woorde, en van daar af kon hy vir sy lewe lank praat.

12. Sien, hierdie orakel was, soos reeds vroeër opgemerk, geen waarheidstempel uit die Joodse skool van profete nie! Maar wie kon by hom na die aangehaalde ware voorbeelde ‘n goddelike inspirasie betwis?!”

Hoofstuk 1 Mobiele weergawe Kommentaar