Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 124 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 3

Hoofstuk 124

Die regte wysheid verskaf die regte middele

1. Helena sê: "Wat jy nou so wys gepraat het, het ek goed verstaan, maar ek verstaan net nie hoe jy so wys geword het nie!"

2. Jarah sê: "Dink maar nie daaraan nie, want dit is `n saak van die Here, wat die mense afhangende van hul vaardighede, verskillende genadegawes toedeel, net soos `n saaier die saad op `n geploegde akker uitsaai. Daar waar die saad op goeie bodem val, bring dit ook maklik en vinnig, baie vrugte voort. Ek glo dat jou hart ook `n goeie akker is!?"

3. Helena sê: "Dit behoort so te wees, maar ek het te lank in die stokblinde heidendom geleef, dat dit nog altyd in my eggo soos `n sleg gestemde snaar op `n windharp! Ek ken nou wel die waarheid, en sy het nou my lewe geword, maar dink eers aan my groot volk tuis, wat nog muurvas verbonde is aan die heidendom en hulle afgode! Hoeveel moeite sal dit ons nie neem om die volk op `n ander wyse voor te lig, en van die bygeloof te bevry nie! As die almagtige wil van die Here ons nie geweldig daarin sal ondersteun nie, sal ons weinig of niks kan bereik nie!"

4. Jarah sê: "Maar jy en jou vader was tog ook heidene, en desondanks het dit werklik nie soveel moeite en werk gekos om julle tot die suiwer waarheid oor te haal nie!"

5. Helena antwoord: "Weliswaar kan ek die suiwer geestelike sake nie teen jou wysheid opneem nie, maar daar is op die wêreld ook nog baie ander sake, en wel veral in samehang met die verskillende geloofsleringe van mense, wat baie moeiliker uit die weg te ruim is as die foute van `n dwaalleer self.

6. Eerstens kry jy met die priesters te doen, wat die godsdiens so ingerig het dat hulle die meeste profyt daaruit maak, en goed daarvan kan lewe. Die tempels vra baie aandag, en gee werk aan baie kunstenaars en ambagsmanne en verder is daar nog dienaars en knegte. Al hierdie mense lewe van die tempels en sal by die ophef daarvan hul inkomste en hul brood verloor. Watter lawaai sal dit nie veroorsaak nie!?

7. As `n mens hierdie mense moontlik `n ander inkomste sou kon gee, sou die saak dalk vinniger en gemakliker gaan, maar waar moet jy in `n land wat nie so groot is nie, so vinnig vir duisende `n nuwe bron van inkomste skep, en waar vir soveel mense brood vandaan kry!? Vir `n paar dae sou ons dit nog wel kon doen, maar vir jare aaneen! Waar moet jy dit vandaan kry, as jy ook nog goed en redelik wil bly!?

8. Bowendien besit die priesterdom die grootste vertroue van die volk en staan daarby nog hoog in aansien. Bose priesters hoef daarom die volk maar net te sê dat die gode ons vervloek het, en dan kyk ons maar of ons nog heelhuids uit ons land gaan kom. - Kyk, vriendin, dit is sulke sake wat ons baie aan die dink sit! Soos gesê, slegs die wonderbaarlike hulp van die Here sal raad kan verskaf!

9. Dit sal moeilik wees om hier in die Joodse ryk die suiwer lig uit die hemele te versprei, omdat die ou leer van Moses te veel ondergesneeu is met onwaarhede en bedrieëry, waardeur die priesterdom te ryk geword het, en nou te goed leef. Tewens speel die priesterdom dit altyd baie goed om gemene saak met die maghebbers te maak, en hulleself vanweë allerlei politieke redes onontbeerlik te maak.

10. Daarvoor gee die maghebbers die priesters gewoonlik te veel vryhede en voorregte, waarmee hulle dan die blinde volk deur allerlei oëverblindery gou aan hulle kant kry en die maghebbers uiteindelik die bose spel nog moet ondersteun om nie alles te verloor nie. Onder sulke omstandighede is dit dan moeilik om hoof van `n volk te wees. Ten slotte moet `n mens selfs bly wees dat jy nog die hoof kan en mag speel, hoewel jy dit in werklikheid lankal nie meer is nie.

11. Glo my maar, lank reeds is die priesters die eintlike gebieders van die volk, en van die volkere, en die keisers, die konings en vorste is slegs hul heimlik baie geërde handlangers. Talle van hulle sou alles anders en beter wou orden, en al die vet en deurvoede dienaars in die pad wou steek as dit moontlik was! Maar dit is nie moontlik nie, en allermins nie op `n menslike manier nie. Wel, as ek nou daaraan dink, rys my die hare ten berge! - Kan jy hierdie probleme insien?"

12. Jarah antwoord: "Sekerlik, en ek weet ook dat `n mens nie alles kan forseer nie. Maar waarmee jy ook deeglik rekening moet hou is, dat wat vir ons mense baie onmoontlik is, by God en met Sy hulp baie maklik moontlik kan wees!

13. Doen jy daarom maar soveel as wat jy kan, en laat al die res oor aan die Here, dan sal alles wel die gewenste goeie doel bereik!

14. Daarby het jy Mathael, wat deur die Here voorsien is van baie wysheid, krag en mag, en sy byna ewe wyse en magtige metgeselle. Hulle almal sal mettertyd wel iets tot stand bring en daarom kan jy nou ook baie gerus wees!

15. En as Mathael sy lesse in jou land net so begin soos by jou, sal dit werklik nie so moeilik wees vir hom om selfs die priesters eerste aan sy kant te kry nie, wie hy dan nuwe ampte kan gee. En hulle sal weet om die volk voor te berei op dit wat daarop sal volg. En wat die kunstenaars en handwerkers betref, sal hulle wel deur die totaal veranderde priesters vir ander doeleindes gebruik kan word!

16. Maar as jy, liefste vriendin, nou weer tuis kom en al die oue, al is dit hoe misleidend, omver sou wou werp, dan is dit baie begryplik dat sodanige inspanning en werk beslis baie sleg beloon sal word.

17. Die ware wysheid uit God moet ook weet om oral die regte middele te gebruik. As sy dit nie weet nie, is sy nog lank geen ware wysheid uit God nie. Wat by één mens moontlik is, moet ook by duisende moontlik wees, dit vra net natuurlik meer tyd en geduld as by een mens, maar alles kan gaan, as jy die tyd en die daarvoor erkende middele gebruik. Met één slag word geen boom gevel nie, en met één emmer water kan jy die put nie leeg skep nie. En so gaan dit oral: ‘n goeie wil, tyd en die regte middele kan berge versit, en `n see droog lê!

18. Niks is by God onmoontlik nie; waar Hy geestelik en natuurlik help gaan alles goed! Berei jou dus heeltemal geen sorge nie en vertrou vas op die Here, dan sal alles wel baie beter gaan as wat jy dit jou nou voorstel! - Sê jy, beste Mathael, is ek reg of nie!"

Hoofstuk 124 Mobiele weergawe Kommentaar