Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 72 Die Groot Johannes Evangelie, Boek 5

Verklaring van die woord ‘SHEOULA’ (hel) Oor heldersiendheid

1. ROCLUS sê: “Majesteit en Heer, ek het nou gesien dat U wysheid en baie gedugte insig in alle dinge ondeurgrondelik diep is en ek moet hier openlik erken, dat U so-iets onmoontlik sou kon weet en insien as U maar net `n mens sou gewees het en nie met U Gees die grootste aandeel gehad het in die hele skepping nie en dit het vir my nou baie helder en uiters duidelik geword wat ek myself nooit vroeër kon voorgestel het nie! Maar omdat U so goed was om sulke buitengewone dinge aan my te verklaar, vra ek U om my die uitdrukking ‘sheoula’ en, sê, die ewige dood nog `n bietjie van naderby te verklaar; want heeltemal duidelik is dit nog nie vir my nie. Dit wil sê, ek verstaan dit wel so ongeveer, maar as ek sou beweer dat ek alreeds heeltemal daarin tuis is, sou ek aan myself `n leuen vertel! Sou U my daarom hierdie twee genoemde dinge nog ietwat van naderby wou uitlê!”

2. EK sê: “Luister dan! ‘SHE’, of ‘SHEI’ of ook ‘SHEA’ beteken: ‘hy dors na’; ‘OUL’ of ook ‘VOUL’; ‘die in sigself verlate mens’, mens sou kon sê: ‘dierlike mens’; en dan ‘A’; volgens die beginselvastheid daarvan, wat die innerlike wysheid en kennis uitmaak”.

3. Dat mens onder die letter A so-iets moet verstaan, betuig die vorm van die ou Egiptiese piramides, wat `n nabootsing op groot skaal is van die harsingspiramides en wat die bestemming het om vir die mense as wysheidskole te dien, waarvan die naam en die inrigting van binne, vandag nog getuienis aflê. Want ‘PIRA MIT DAI’ beteken immers “Gee my wysheid!” En die inrigting van binne was ook sodat die mens hierin, heeltemal van die buitewêreld afgesluit, sy innerlik moes begin beskou en sy innerlike lewenslig moes vind. Daarom was dit in die lang inwendige gange van so `n piramide ook altyd pikdonker en oerduister en dit het nie vroeër lig geword nie, voordat die mens met sy innerlik lewenslig alles begin verlig het.

4. Dit is vir jou wel sekerlik ietwat vreemd om dit te hoor, maar tog is dit alles so! Want as in die gemoed van `n mens die innerlike oog geopen word, bestaan daar vir hom op aarde geen nag en geen duisternis meer nie. `n Ware tasbare bewys hiervoor lewer alle baie sensitiewe mense wat in verrukking verkeer. Hulle sien met volkome geslote oë baie meer as duisend ander met die allerbeste, gesondste en skerpste oë; want hulle sien deur die mees vaste en ondeursigtige materie heen en kan maklik deur die hele aarde heen sien en selfs die sterre is nie so ver weg dat hierdie mense wat werklik in verrukking (magnetiese) verkeer, hulle nie geheel en al sou kon deursien nie.

5. Maar hoe mense in die salige toestand van verrukking kan kom - en dit ten slotte wanneer en hoe dikwels hulle maar wil, - dit was hulle nou juis in die piramides geleer en hoofsaaklik baie intensief beoefen.

6. Omdat die piramides hierdie doel gedien het, het mens aan hulle ook die baie korrekte en veelseggende naam SHE-OUL-A gegee. Die ou Hebreërs het dit tot ‘SHEOL’, verkort, die Grieke tot ‘SCHOLE’, die Romeine tot ‘SCHOLA’ en die Perse en Indiërs tot ‘SCHEHOL’*. *(SEKERLIK OOK DIE DUITSE ‘SCHULE’: OPMERKING DEUR JAKOB LORBER.)

7. En omdat die ou wyses, deur wat hulle in geestesvervoering gesien het, baie goed geweet het in watter betreurenswaardige toestand baie materiële siele, wat die wêreld en hulleself buitengewoon liefhet, in die hiernamaals na die afval van die liggaam beland, het hulle hierdie betreurenswaardige toestand ook SHE OUL A, of hel genoem!

8. Dat `n dergelike toestand, in vergelyking met dié van `n ware wyse wat leef binne God se orde, met die begrip ‘dood’ aangedui word, kom sekerlik met die waarheid ooreen. En omdat dit ewig en noodwendig `n steeds eenderse en blywende eienskap is van alles wat ‘wêreld’ en ‘materie’ heet, sal dit ook duidelik wees waarom mense so-iets die ‘ewige dood’ genoem het!

9. Solank `n siel dan hier of in die hiernamaals in so `n toestand verkeer, bevind sy haarself natuurlik ook in `n toestand van ewige dood en om haar daarvan los te maak, is beslis `n uiters moeilike lewenstaak! Menige siel sou wel so `n lang tyd daarvoor nodig hê as die lewensduur van `n wêreld totdat sy uit haarself weer sover sou kon kom dat sy iets sou word! Sê My, of dit nou vir jou duidelik is!”

10. ROCLUS sê: “Ja, Majesteit en Heer oor alles, nou is dit vir my ook werklik heeltemal duidelik; maar nou nog `n klein vragie en dit is, naamlik hoe `n mens in die staat van geestesvervoering kan raak waarin hy alles sien! As ek dit nog sou weet, al is dit maar net die weë waarlangs dit moontlik is, dan sou ek alles wat denkbaar is, daarvoor aanwend om myself ook van tyd tot tyd in so `n toestand wat mens hoogs geluksalig maak, te bring! Majesteit en Heer oor alle dinge, wees so goed om aan my ook wat dit betref, `n paar goeie aanwysings te gee!”

11. EK sê: “Die skole van Egipte het opgehou om te bestaan en bestaan op hierdie manier alreeds baie lank nie meer nie; want ten tye van Moses het dit verkeerd begin gaan daarin. Toe reeds het mense al begin om net uiterlik onderwys te gee en mense soos Plato en Sokrates was so ongeveer die laastes wat nog `n vae begrip gehad het van die innerlike lewenskool.

12. Maar Ek het nou immers in die vlees van hierdie wêreld gekom om aan julle mense `n nog beter lewensvoorskrif te gee, waarmee elkeen by die hoogste lewenswysheid kan kom. En hierdie voorskrif lui kortliks soos volg: “Jy moet God bo alles liefhê en jou naaste soos jouself!” Wie dit beoefen en volop uitleef, is gelyk aan My en sal juis daardeur dan ook in alle Wysheid en Haar Krag en Mag ingelei word!

13. Want in hom wat vol liefde vir God is, is God ook met Sy eindelose en grenslose liefde en met die hoogste lig daarvan teenwoordig. Die siel word dan oorvloedig met haar gees gevoed in die lig van God se Wysheid en dan kan sy immers nie anders as om alles te sien en te weet wat die lig van God sien en weet nie. En omdat die ewige almag en algehele krag van God nou juis uit Sy grenslose en eindelose liefde bestaan, hoef die siel in hierdie Goddelike liefde natuurlik net te wil met die wil van die liefde van God se Gees wat in haar heers en wat die siel wil, dit moet gebeur! Dit is so duidelik en waar, soos wat iets maar in hierdie wêreld duidelik en waar kan wees.

14. Dit is egter nog lank nie voldoende om dit te weet en te glo nie, hoe intensief dan ook, maar mens moet dit volkome in praktyk uitleef, ook in die moeilikste lewensomstandighede en mens moet dit te alle tye beoefen; want net voortdurende intensiewe oefening maak uiteindelik eers van die student `n meester!”

Hoofstuk 72 Mobiele weergawe Kommentaar