First edition German English Afrikaans Serbian Slovak Czech Spanish Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 1 Die Geestelike Son

Die geestelike son, `n genadevonk van die Heer

1. Voor ons onsself in die eintlike geestelike son kan begewe, moet ons eers weet waar hy is, hoe hy in verband staan met die natuurlike son en van watter aard hy is.

2. Om so `n goed as moontlike begrip van die geheel te kry, moet eerstens opgemerk word dat die geestelike alleen dit is wat die mees innerlike, en tegelykertyd ook die alles deurdringende, en bygevolg die alleen werksame en bepalende is.

3. Neem byvoorbeeld `n vrug. Wat is die mees innerlike daarin eintlik? Niks anders nie as die geestelike krag in die kiem nie. Wat is dan die vrug self, wat met al haar bestanddele daar is vir die beskerming en die behoud van die binneste kiem? Sy is in wese weer niks anders nie as die uiterlike orgaan wat deur die krag van die kiem deurdring is, wat in al sy dele weldadig inwerk op die aanwesige kiem.

4. Dat die uiterlike vrug `n orgaan is wat deur die geestelike krag van die kiem bepaal word, blyk ook al hieruit dat nie net die vrug nie, maar die hele boom, of die hele plant uit die geestelike kiem tevoorskyn kom.

5. Wat is derhalwe die geestelike? Die geestelike is vir eers die innerlike krag in die kiem, waarvan die bestaan van die hele boom met wortels, stam, takke, fyn takkies, blare, bloeisels en vrugte afhang. En wederom is dit die geestelike, wat al hierdie genoemde dele van die boom, asof vir homself, of vir eie welsyn deurdring.

6. Die geestelike is bygevolg die mees innerlike, die deurdringende en dus ook die alomvoutende, want wat die deurdringende is, is ook die omvoutende.

7. Dat dit korrek is, kan julle aan menige natuurverskynsels waarneem. Neem maar net `n klok. Op watter plek is die klank? Sou julle sê: Meer aan die buitekant, meer in die middel van die metaal of meer aan die binnekant? Dit is verkeerd! Die klank is die inwendige geestelike fluïdum (by plante vloeibare gasse of sappe) wat in die materiële hulsels opgesluit is.

8. As daar nou teen die klok geslaan word, dan word die slag deur die inwendige fluïdum, wat `n baie elastiese en rekbare geestelike substraat is, waargeneem as iets wat sy rus verstoor. Daardeur gaan die hele geestelike fluïdum oor in `n strewe na vryheid, wat hom dan uiter deur `n aanhoudende galm. Word die uiterlike materie van die klok oorgeblaas met `n ander stof, wat nie met sulke maklike prikkelbare geestelike vermoë deurtrek is nie, dan word die vibrasies van die prikkelbare geestelike vermoëns, of beter gesê, hulle strewe na vryheid, spoedig gedemp. So `n klok sal dan baie gou ophou om te klink. Is die klok egter nie oorgeblaas nie, dan weergalm die geluid nog lank. As sy bowendien nog van buite omgewe word deur `n uiters gevoelige substansie, byvoorbeeld deur suiwer elektries gelaaide lug, dan word die klank daardeur nog versterk en brei hom ver in so `n saamtrillende substansie uit.

9. As julle dié beeld nou `n bietjie oordink, sal dit vir julle duidelik word dat dit weer die geestelike hier is wat die mees inwendige, die deurdringende en die omvoutende is. Ons sal nog `n voorbeeld neem.

10. Neem `n magnetiese stuk staal. Waar in hierdie magneet, sit die aantrekkende- of afstotende krag? Dit sit in die inwendige, dit wil sê in die hulsels, wat eintlik die sigbare materie van die staal uitmaak. As inwendige krag deurdring sy die hele materie, wat geen belemmering vir haar is nie, en omvou dit heeltemal. Dat dié magnetiese fluïdum die materie waarin sy haarself bevind, ook uiterlik omvou, kan elkeen maklik sien wanneer so `n magnetiese stuk yster, `n stukkie van dieselfde metaal, wat `n entjie van haar af lê, aantrek. As dit nie `n omvoutende, en daardeur ook `n werkende krag buite die sfeer van die materie was nie, hoe kon dit dan `n voorwerp wat verder weg lê, aantrek?

11. Ter verduideliking sal ons nog `n paar kort voorbeelde gee. Bekyk net `n slag `n elektriese geleier of `n elektriese fles.* As so `n geleier of so `n elektriese fles met die elektrisiteit van `n gevryfde glasplaat gelaai word, dan deurdring sy die hele materie en is dan ook haar inwendige, en tegelyk haar deurdringende element. As julle `n soortgelyke geleier of fles begin te nader, dan sal julle spoedig deur `n sagte waai en trek merk dat die fluïdum die hele materie van die geleier of fles omvou het.

12. `n Nog sprekende voorbeeld vir julle is die uitstraling van elke mens, netsoos van ander wesens; dit is egter die duidelikste by somnambule (wat in `n magnetiese slaap verkeer – of slaapwandelaar). Oor welke afstand `n magnetiseur en `n somnambule lyer, wat deur hom behandel word, oor en weer berigte kan deurgee, sal verskeie van julle wel aan die lyf ondervind het. Sou die gees nou slegs `n inwendige en nie tewens `n deurdringende wese gewees het nie, dan sou daar hoegenaamd geen sogenaamde magnetisering moontlike gewees het nie; en as die gees ook nie tewens, die alomvoutende en die allesbeheersende was nie, sê net, hoe sou daar dan kontak op `n afstand moontlik gewees het tussen `n magnetiseur en `n somnambule lyer? Ek dink dat ons genoeg voorbeelde het waaruit ons kan aflei waar, hoe en op welke manier die geestelike oral, dus sekerlik ook in, deur en by die son tot uiting kom.

13. Die geestelike son is dus die mees inwendige van die son en is `n genadevonk uit My. Dan deurdring die geestelike, die hele materie van die son, kragtig werkend, en ten slotte is dit ook dit wat die hele wese van die son omvou. Dit alles bymekaar geneem is dus die geestelike son. Hierdie son is die eintlike son, want die sigbare, materiële son is slegs `n liggaam van die geestelike son, wat afhanklik is van die geestelike son, en wat weldadig op haar inwerk,. Dié liggaam is in al sy dele so gevorm, dat die geestelike homself in en deur homself kan uiter en juis daardeur weer in sy totaliteit volkome inmekaar gryp.

14. Wie dus die geestelike son wil beskou, moet eers haar uiterlike verskyningsvorm bekyk en daarby oordink dat dit alles, in al sy besonderhede, sowel as in die geheel, van die geestelike son deurdring en omgewe is, dan sal hy daardeur reeds `n vae voorstelling van die geestelike son kry.

15. Daarby moet hy nog oordink dat al die geestelike iets volkome konkreet is, of iets wat onderling alom volledig inmekaar gryp, terwyl die natuurlike slegs in afsonderlike dele geskei is en uit homself heeltemal geen hegte geheel vorm nie. Wanneer dit as `n geheel verskyn, gebeur dit slegs deur die werking van die inwendige geestelike. Daardeur sal die insig in `n geestelike son al bietjie helderder word en sal die verskil tussen die natuurlike en die geestelike son steeds duideliker na vore kom.

16. Sodat julle hierdie dinge egter steeds duideliker sal begryp, sal Ek julle weer, deur enkele voorbeelde, `n helder insig verskaf. Neem net `n klein stafie edelmetaal. As julle dit in ruwe toestand bekyk, dan is dit donker en ru. As jy dit egter slyp en daarna mooi poleer, sal dit heel anders daaruit sien as voorheen en tog is dit nog steeds dieselfde stafie. Wat is dan wel die eintlike rede van die verfraaiing van dié stafie? Ek sê vir julle, baie eenvoudig. Deur die slyp en poleer is die dele aan die oppervlakte van die stafie digter op mekaar gedruk en in `n sekere sin met mekaar verbind. Daardeur word dit ook meer konkreet en onderling hegter samehangend en in sekere sin ook, om dit maar eers so te sê, volkome eensgesind. In die vroeëre ruwe toestand, wat nog `n losser eenheid was, staan die deeltjies as`t ware vyandig teenoor mekaar. Elke los deeltjie woeker vir homself met die voedende strale van die lig, neem soveel daarvan op as wat hy maar kan, en laat vir sy buurman niks oor nie. In die gepoleerde toestand, wat `n gelouterde of gesuiwerde genoem kan word, gryp hierdie deeltjies inmekaar. Deur dié inmekaargryp word die daarop vallende ligstrale gemenegoed, omdat geen enkele deeltjie dit nou nog vir homself wil hou nie, maar selfs die kleinste bietjie lig reeds met sy bure deel. Wat is die gevolg daarvan? Almal het nou lig in oorvloed, sodat hulle by verre na nie in staat is om die rykdom op te neem nie. Die oorvloed van die nou algemene stralerykdom straal dan as `n pragtige harmonieuse glans terug van die hele oppervlak van die gepoleerde goudstafie.

17. Vermoed julle al `n bietjie waar hierdie prag vandaan kom? Van die eensgesindheid of wel van die eenwording. As die geestelike bygevolg volmaak is en in homself eensgesind, hoeveel groter moet die prag van die geestelike dan wel wees as die van sy liggaam, wat slegs uit deeltjies of stukkies bestaan en juis daardeur ook selfsugtig, vol eiebelang en dus dood is!

18. Laat ons `n ander voorbeeld neem. Julle het sekerlik al eens ruwe kieselklip (silikaklip) gesien, waaruit glas vervaardig word. Laat so `n ruwe kiesel, netsoos sy afstammeling, die glas, die strale ongehinderd deur? O nee, dit weet julle baie goed. Waarom laat so `n ruwe kieselsteen die strale nie deur nie? Omdat sy dele nog te veel geskei en veels te min eensgesind is. As die strale op hom val, verteer elkeen van sy deeltjies die strale vir homself en laat wel heeltemal niks of hoogstens in sekere sin die afval van die opgeneemde strale vir sy uiteindelike buurman oor. Maar hoe gebeur dit dan dat sy afstammeling, die glas, so vrygewig word? Kyk, die kiesel word eers stukkend geslaan en fyn gemaak. Daardeur moet elke deeltjie in `n sekere sin vir die ander sterf, of moet hom volledig van die ander losmaak. Daarna word sulke kieselpoeier gewas. Is dit gewas, dan word dit gedroog, met sout vermeng en kom dit in die smeltkroes, waar die afsonderlike stofdeeltjes deur die sout en die korrekte temperatuur van die vuur onderling volkome verenig word.

19. Wat wil dié werk met ander woorde sê? Die selfsugtige geeste word in `n sekere sin deur die materie vermorsel, sodat hulle volkome vanmekaar geskei is. In hierdie geskeide toestand word hulle dan gewas of beter gesê, gesuiwer. Is hulle gesuiwer, dan word hulle eers gedroog, `n toestand wat ooreenkom met sekerheid. In so `n toestand word hulle eers met die sout van die wysheid gesout, en ten slotte, so voorbereid, in die vuur van My liefde verenig. Begryp julle dié voorbeeld? Julle begryp dit nog nie heeltemal nie. Wel, Ek sal dit vir julle nog nader toelig.

20. Die uiterlike materiële wêreld in al haar dele is (stem ooreen met) die ruwe kiesel. Die opdeling daarvan is die vorm gee aan die verskillende wesens. Die was van die kieselstof is die suiwering of trapsgewyse opstyging tot hoër potensies van die geeste in die materie. Die droging beteken die vrymaking of die veilig stel van die geeste in `n eenheid, wat al by die mens tot uitdrukking kom. Die souting is die gee van die barmhartigheidslig aan die gees in die mens. Die uiteindelike samesmelting deur die hitte van die vuur in die smeltkroes is die eenwording van die geeste, onder mekaar, sowel as met die vuur van My liefde. Want soos die materie in die smeltkroes nie kan saamsmelt, voordat hulle nie dieselfde warmtegraad as die van die vuur in hulleself opgeneem het nie, kan ook die geeste onderling nie vooraf eensgesind en dus vir ewig verdraagsaam word, voordat hulle deur My liefde of wel deur Myself, volkome deurdring word nie. So staan daar ook in die Skrif: “Wees volmaak soos u Vader in die hemel volmaak is” (Matthéus 5:48). En wederom staan daar: “Sodat julle een kan word soos wat Ek en U een is” (Johannes 17). Kyk, hieruit sal die voorbeeld tog sekerlik duidelik word.

21. Waardeur kom die eenwording van die glas egter vervolgens tot uitdrukking? Deurdat alle dele nou die straal van die son op een en dieselfde manier opneem en deur en deur verlig word, dus heeltemal van lig versadig is. Tog kan hulle die opgeneemde lig geheel ongehinderd deur hulle heen laat gaan. Kyk, so leer die vensterglas julle reeds, hoe die hemelse verhoudings geaard is en tewens leer dit julle ook om die geestelike son op `n beduidende hoër trap te beskou. Ons sal ons egter nog nie met dié voorbeeld tevrede stel nie, maar by `n volgende geleentheid nog enkele dinge aanhaal, waardeur ons dan op die maklikste manier heeltemal tot die geestelike son self kan opstyg om onuitspreeklike heerlikhede daar te aanskou!

Hoofstuk 1 Mobiele weergawe Kommentaar