Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 47 Die Geestelike Son, Boek 2

5. As ons trouens baie aandagtig na die vlak wand kyk, ontdek ons nie eens een of ander toegangsdeur nie en dit dui baie sterk daarop dat hier, óf suiwer geeste woon, óf dat glad niemand daarbinne woon nie. Waarlik, oor hierdie hoogs lugtige inrigting sou mens hom werklik `n bietjie kan amuseer, want waar niks te sien is nie, is vir die kykende subjek ook eintlik geen objek voorhande nie. Ons sou wel net wil weet hoe mens dan sonder `n objek tot `n duidelike begrip oor die een en ander sou kan kom. Mens sou hoogstens vanuit sy eie fantasie `n baie sterk hipotese kan opstel, dit dan soos in `n kaartspel deurmekaar skommel, in `n bak gooi, een op goeie geluk uittrek en dit dan tot hoofprys maak.

6. Werklik, dit lyk sterk daarna dat ons op hierdie galery ons toevlug sal moet neem tot onsigbare hipoteses en dat ons sal moet vertel wat moontlikerwys hier sou kan wees, maar nie wat werklik hier is nie.

7. Ja, my liewe vriende en broeders, volgens wat dit lyk, het julle weliswaar in menige opsig gelyk, maar in werklikheid is julle veronderstellinge en vermoedens net soos menige grapperig lykende frases, nog baie meer lugtiger en deursigtiger as die voorwerpe van hierdie tiende galery.

8. Het julle nog nooit op aarde gehoor of gesien van welke middel die blindes hulleself bedien as vervanging van hulle gesigsvermoë nie? Julle sê: Hulle betas en voel of daar iets is en wat dit is. Wel nou, as julle so goed as blind is vir die voorwerpe hier, voel dan en oortuig julleself daarvan of daar iets is of nie.

9. Ek sê vir julle: Ons bevind ons naby `n versierde pilaar, wat hier egter nog maar uit twaalf aparte pilare bestaan. Tas `n bietjie om julle heen, en dan sal julle gevoel julle baie gou sê hoe dit hier met die dinge gesteld is. Kyk, daar agter julle is al dadelik `n pilaar; gryp hom maar vas, dan sal julle hom vas en seker dadelik baie goed waarneem.

10. Wel nou, dit het julle gedoen. Het julle `n pilaar ontdek of nie? Julle sê: Waarlik, beste vriend en broeder, ons het bowendien `n besonder soliede pilaar met ons hande ontdek. Maar wat se verskriklike materie is dit, wat by so 'n buitengewone stewigheid tog so deursigtig is, dat mens ook, met die skerpste blik, geen spoor van haar kan ontdek nie? Op aarde is so 'n verskynsel ondenkbaar.

11. Ja, liewe vriende en broeders, ek sê vir julle hieroor niks anders nie as; alles rig hom volgens die wese van die dinge. Tog sal daar voorbeelde te vinde wees waardeur die verskynsel selfs op julle aarde baie goed uitgelê kan word. Die ervaring sal julle leer, as dit julle nie al geleer het nie, dat volkome gelyke voorwerpe, dit wil sê voorwerpe van presies dieselfde kleur, onder bepaalde omstandighede, nie met die allerskerpste oë van mekaar te onderskei is nie.

12. Neem as eerste voorbeeld `n volkome wit wand en skilder dan daarop met presies dieselfde wit kleur verf `n landskap. As dit klaar is, probeer dan of julle iets van die landskap kan ontdek. Kyk, daar het ons al `n voorbeeld.

13. Neem `n geslypte diamant en plaas hom op gloeiende kole wat ietwat aangewakker is deur `n klein blaasbalk. Die diamant sal spoedig, ja, oombliklik ewe gloeiend word as die kole, maar by `n sodanige hitte gladnie uitmekaar spat nie. Roep dan iemand nader na die plek waar die diamant geplaas is, en wat nie weet dat die diamant daar is nie. Hy sal `n dag lank in die gloed kan staar, maar julle kan daarvan verseker wees, dat hy, net soos julle, nie die geringste spoor van die diamant sal ontdek nie. Waarom nie? Omdat die diamant, as hoogs deursigtige en buitengewone harde voorwerp, onder volkome gelyke lig- en gloei omstandighede nie van sy omgewing te onderskei is nie; sy kante laat, onder sulke baie gelyke omstandighede, geen uiterlike van sy vorm sien nie.

14. Kyk, dit is alweer `n voorbeeld van julle aarde. Gaan net na `n glasfabriek. Neem daar `n paar glaskrale of ander glasvoorwerpe en werp dit dan by die witgloeiende, vloeibare glasmassa van die smeltkroes. Kyk dan net baie goed daarna en beskryf aan mekaar hoe die verskillende vorms van die glaskrale uiteindelik daar uitsien. Julle sal daarvan so goed as niks meer ontdek nie. Kyk, daar het ons alweer `n voorbeeld van julle aarde.

15. Nou `n voor die hand liggende voorbeeld vir julle! Giet in `n baie skoon glas ook baie skoon water en probeer dan of julle van die gevulde glas die binnekant, waarteen die water staan, kan ontdek. Nog meer voorbeelde: Plaas `n volkome skoon glas in ook volkome skoon water en julle sal van die glas nie veel meer te siene kry nie. Laat verder van volkome suiwer glas, wat aan beide kante spieëlglad geslyp is, `n ruit insit en probeer vanuit die kamer iets van die glas van die ruit te ontdek. Julle kan daarvan verseker wees, dat elke vreemdeling wat in julle kamer sal inkom, vir julle sal sê: Maar waarom sit julle geen ruit daarin nie? Waarom sal hy dit sê? Omdat hy nie in staat is om die materie van die suiwer glas van die suiwer lug te onderskei nie.

16. Gaan net verder, op `n newelagtige dag, na die water en kyk of jy iets van die water kan ontdek, wanneer die newel op die oppervlak lê. Ander voorwerpe kan julle op gelyke afstand nog baie goed onderskei, maar net nie die wateroppervlak nie, omdat dit natuurlik dieselfde kleur aanneem as die daarbo swewende newel. So sal julle ook op `n gletser, selfs by `n swak newel, niks meer van die ysformasies onder julle voete vind nie. Die oorsaak daarvan moet ook in dieselfde lig gesien word.

17. Neem nou ten slotte net aan dat julle julleself byvoorbeeld in die planetêre sfeer van `n dubbelson bevind, waar dikwels sigbaar vir die planeetbewoners, hoewel op beduidende afstand, die een son voor die ander skuif, net soos julle maan by `n sonsverduistering die son skynbaar bedek. By die maan kan julle baie goed sien in hoeverre sy oënskynlike skyf voor die oënskynlike skyf van die son geskuif word. Sou julle wel twee op dieselfde manier voor mekaar geskuifde sonskywe net so goed uitmekaar kan beskou? Julle sou niks anders kan sien as twee volkome ineengesmelte sonne nie, maar die afwesigheid van die een stralende skyf voor die ander sal, vanweë dieselfde lig, volkome onsigbaar vir julle wees.

18. Ek dink dat ons genoeg voorbeelde het waaruit julle die onsigbaarheid van die voorwerpe op hierdie galery baie maklik kan verklaar. Die oorsaak lê naamlik hierin, dat die voorwerpe dieselfde kleur en deursigtigheid het as die omgewende ligstof wat hulle omring.

19. Dit is egter nie net materieel gesien korrek nie, maar ook geestelik. Stel vir julle `n geselskap van mense voor, wat almal presies ewe wys is. Hoe sal hulle hulleself onderling gedra? Ek sê vir julle, nie anders nie as blindes, dowes en stommes, want niemand het dan iets anders te sê nie, omdat hy al by voorbaat weet dat sy buurman vas en seker al weet wat hy hom sou wil sê. Iets soortgelyks is tog duidelik aanwesig in julle daaglikse lewe.

20. Wat doen twee bekendes wanneer hulle so nou en dan bymekaar kom? Kyk, baie spoedig vra die een die ander: Wel, watter nuus het jy? Weet die een om die ander iets nuuts te vertel, dan sal die ander baie aandagtig na hom luister, maar het beide geen nuus nie, dan sal die gesprek van korte duur wees. Waarom? Omdat die ligkleure van die kennis in die geval heeltemal gelyk is. Dieselfde is die geval wanneer beide dieselfde nuus al geruime tyd weet. Sodra die een dit begin te vertel, sal die ander hom dadelik sê: O, dit is ou nuus; as jy niks beters weet nie, dan is ons al uitgepraat.

21. Dit is ook die geval wanneer `n blinde `n ander sou wil lei of `n domme `n ander onderrig. Wat sulke mense sal bereik, is bekend en hoef nie van naderby uitgelê te word nie.

22. Dit is dan ook die rede waarom die mense op aarde nie hulle omringende geeste kan sien nie, omdat hulle hulle wil sien met hulle oë, wat homogeen is met hulle verstand en dit is weer homogeen met die vorm van die substansie van die geeste.

23. Wanneer iemand hom egter in sy liefde begewe, wat `n ander lig is as die lig van die suiwer wysheid, dan sal hy ook weldra die geestelike vorms om hom heen begin te sien en dit sal verdwyn sodra hy hulle in sy denke sal opneem. - Kyk, dit is al `n klein inleiding op dit wat ons hier sal leer ken. Begin dus maar flink om om julle heen te tas, dan sal ons die volgende keer voldoende stof hê vir `n leersame uiteensetting.

Hoofstuk 47 Mobiele weergawe Kommentaar