Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 11 Die Huishouding van God, Boek 1

Hoofstuk 11: Die geboorte van Cahin en Ahbel

1. En sien, toe het die Liefde voor die oë van die’ wat geskep is, verdwyn, en het na die heilige skoot van die Vader teruggekeer.

2. En nou sien, jy My lui en baie sleg huurling, wat nog baie hardhorend is; want Ek moet dan vir jou soos ‘n sub-A kind elke woord afsonderlik in die pen dikteer, en nog verstaan jy My nie en vra vir My dikwels twee-, drie-, vyf-, soms tot tien maal, en sien, getrou herhaal Ek altyd elke woord vir jou! Daarom moet jy meer oplettend wees, sodat dit vinniger gaan as tot nou toe; want die wêreld benodig binnekort die voltooiing van hierdie werk van My groot genade! Laat dit vir jou deur My, julle heilige Vader, wat in geheel en in sy volle wese Liefde is, gesê wees!

3. En nou skryf verder! - En nou was die nuut geskape paartjie alleen op die wye aarde, en die beloofde Engel met die vlammende swaard in sy regter hand het verskyn; en toe hulle vir hom sien, het hulle groot geskrik, sodat hulle voor sy oë gevlug het en van groot vrees tot in al hul ingewande gebewe het.

4. En nou sien, die vrees het die tyd van Eva bespoedig, en in pyn het sy die verbode vrug, wat die slang deur Adam se blindheid in haar geplaas het, afgelê.

5. En Adam het na die naakte vrug gekyk en opgemerk, dat die vrug soortgelyk aan homself was, en was baie bly daaroor; en Eva het die vreugde van Adam waargeneem en druk toe met alle begeerte die vrug van haar liefde aan haar volle bors.

6. En sien, toe ondervind sy ‘n soortgelyke steek in haar bors nes die steek deur die slang en plaas toe die vrug in groot angs en vaste oortuiging, dat sy weer gesondig het, op die aarde neer.

7. Maar sien, toe het die groot Engel met sagte aangesig voor die angstige en vreesende paartjie verskyn en het toe vir hulle met ‘n vaste stem gesê:

8. “Moet nie vir die kneg van Jehova, wat vir julle van bo af gestuur is, angstig en bang wees nie, want ek wil vir julle die aarde wys en vir julle oor die dwalinge van die wêreld inlig - en ook om vir julle en julle nageslag te tugtig, sou julle ooit van die weë van die ewige Liefde en die oneindige heiligheid van God, afwyk.

9. Sien, hierdie vrug is nie meer vir julle ‘n sonde nie; maar dit is net die gevolg van die drievoudige ongehoorsaamheid teenoor God en is die dood van julle vlees, wat julle in selfsugtigheid deur julle begeerte van die vlees, verwek het. Julle mag nie hierdie vrug van julle af weggooi nie, maar moet dit volgens die wil van bo as getuienis oor julleself en julle nederigheid behou, sodat julle mettertyd sal ervaar, hoe deur julle die sonde en deur die sonde ook die dood in die wêreld gekom het; maar die vrug self moet julle ‘Cahin’, (Kain) of ‘Doodbringer’ noem!”

10. Toe het die paartjie deur die boodskap van die bode van bo in hul angstige gemoedere rustig geword, en Eva het die vrug, wat op die aarde gelê het, met nog bewende hande opgetel en het op aandrang van Adam deur die Engel, vir die suigeling die volle bors gegee, om uit haar die lewe van die aarde te suig.

11. En die Engel het toe aan die linkerkant van Adam gestaan, en Eva met die vrug op die regterarm het aan die regterkant van Adam gestaan, sodat haar hart van enige las vry was en voortaan na die mens op alle weë en paaie gekeer sal wees.

12. En so het hulle voorbeeldig oor die hele aarde gewandel, om alle plekke te besigtig en woonplekke vir hulle toekomstige nageslagte op te rig en om vir hulle deur die mag en krag, wat aan hulle deur die groot genade en barmhartigheid van die Liefde verleen was, die brood te saai.

13. Want die aarde en alles, wat daarop was, was onderdanig aan die wil van Adam, en die see en al die waters was selfs aan die kleinste wenk van Adam getrou gehoorsaam en was van die oppervlakte tot op die diepste bodem aan hom onderdanig en die see het met eerbied vir die voet van sy meester sy rug aangebied, om daarop na willekeur te kan wandel; en al die winde was onderdanig aan hom, en alle diere van die waters, die vaste land en die lug was gehoorsaam aan sy stem.

14. En Adam was oor die’ innerlike krag verbaas en het gesien en erken, waarom die ewige Liefde vir hom sulke groot kragte verleen het, en was uitermate vrolik oor die genade van bo en sê toe vir Eva:

15. “Eva, my vrou, sien, die Here van mag en krag het vir ons geseën; laat ons vir hom ons harte offer, sodat Sy seën op aarde volgens Sy groot belofte sal gedy en deur jou die nuwe inwoner van hierdie plek die lig van genade sal waarneem!”

16. En Eva, vol nederigheid en innerlike vreugde, sê toe: “Adam, kyk vir jou maagd aan jou voete, wat op die teken van haar meester op aarde wag, en daar sal met haar volgens jou wil gebeur; neem my skuldige hart en offer dit vir die Here!”

17. En Adam het in volle oorgawe aan die Here aan Eva gedoen, soos dit die Here vir hom beveel het.

18. En sien, die seën het by Eva sigbaar geword, en Adam was baie bly daaroor, en ook Eva het in haarself ‘n groot vreugde ondervind. En nou luister, wat die Engel van Jehova vir die vrolike paartjie gesê het, en sy woorde was goed gepas soos woorde vanuit die hoogtes en soos woorde vanuit die dieptes, en dit was die ewige Liefde Self, wat deur die mond van die Engel gepraat het, en hierdie woorde uit die mond van die Engel was soos volg:

19. “Adam! Jy het nou gedurende die ver reise op aarde baie geleer; die vaste lande en die waters het jy gesien, en ook wat daarop en daarin is, groei en beweeg; en het van die groot mammoet tot alle diere verder onder toe tot die kleinste van die kruipende wurmpies, gesien; en het die sterk haai en al die diere van die waters tot die inwoners van ‘n druppel gesien; en het ook al die voëls van die lug, vanaf die reusagtige arend tot by die kleinste blaarvoëltjie en van daar tot die kleinste muggie gesien; en jy het al hulle kragte, nuttigheid en geskiktheid getoets; en het ook daaruit herken, hoe die ewige Liefde in oorvloed vir jou en deur jou ook vir Eva gesorg het.

20. Jy het met die berge gepraat, en hulle het vir jou geantwoord; en jy het die see gevra, en dit het vir jou geantwoord; en jy het jou stem na die diepte van die aarde gerig, en die antwoord het nie onderweë gebly nie, en jy het die toon van jou stem aan al die bome, struike, kruie en aan al die gras gerig, en hulle het vir jou hul name genoem en het met eerbied hulle geskiktheid aan jou verduidelik en daaruit die nuttigheid vir julle na willekeur; en so ook het al die diere, met wie jy met die stem van jou bors gepraat het, elkeen in sy soort ‘n hoorbare en volle antwoord vir jou gegee en vir jou aangedui, hoe hulle vir jou diens bestem is en blindelings aan jou wil onderdanig is; en die winde het vir jou geleer, hoe om vir hulle volgens jou wil te gebruik; en dit alles het ook Eva gesien, gehoor en gewaar.

21. Sien nou, Adam, en ook jy, Eva, dit alles is nie vir jou van die ewige Liefde gegee soos die lewe en Eva nie, maar Haar groot genade het dit vir jou as geskenk gegee, en jy sal dit alles vir net so lank behou, soos wat jy volgens die wil van die heilige Vader ‘n wyse gebruik daarvan sal maak; maar een na die ander sal uit die gebied van jou groot mag verwyder word, wanneer jy jou gemoed nie altyd heel rein voor die aangesig van Jehova sal hou nie. Daarom wees wys, soos die groot, oorgoeie en oorheilige Vader daar bo oor al die skepping en daar onder in die diepte onder alle skepping, dit is!

Hoofstuk 11 Mobiele weergawe Kommentaar