Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 162 Die Huishouding van God, Boek 1

Hoofstuk 162

1. Na hierdie warm toespraak van dank het die hoë Abedam met ‘n liefdes vriendelike aangesig vir Seth gekyk en gesê: “Seth, My Seun, kom hiernatoe, hier, na hierdie bors, wat vir jou reeds eerder lief gehad het, nog voor enige son vir enige aarde die baan verhelder het!

2. Wees lief vir My, met ‘n volle hart wees lief vir die Vader, wat op grond van die ewige liefde vir jou die wye hemel oor die aarde, son, maan en alle sterre uitgespan het, om vir jou te kan wys, watter uiters goeie, heilige Vader Hy vir jou is, ewig was en ewig wil en sal bly!

3. Is dit nie so nie, My liewe Seth, dat by die ewige, heilige Vader se hart, die rus sag en aangenaam is?! -

4. Ook jy, Adam, kom hier, en ook julle drie, kom voel en proe, hoe soet die liefde van die heilige Vader smaak, en hoe goed dit vir die moeë harte van die kinders is!”

5. Maar hulle het almal voor hom neergeval en het in die hoogste verrukking uitgeroep: “O oorgoeie, heilige Vader”, - en niemand was in staat om meer te sê nie.

6. Maar Abedam het hulle opgehelp, en het verder vir hulle gesê: “My liewe kinders! Julle het vir My dikwels gesoek, het vir My reeds vir lank moeisaam gesoek, ja bo al die sterre het julle vir My gesoek, terwyl Ek tog bestendig onder julle gewandel het; alleen julle het nie vir My kon vind en erken nie, omdat julle oë en so ook julle harte in die verte gerig was, om vir Hom te soek en lief te hê, wat vir julle tog steeds so naby was, ja nader as elkeen vir homself!

7. Maar nou het julle vir My gevind en is oorgelukkig, dat julle vir My gevind het; laat ons dan nou uit die hut tree en sien, wie alles ons hulp nodig het!

8. Maar vir jou Seth, gee Ek nou die mag, om die sterk verwoede storm stil te maak, - en dit sal dan wys, wie nog alles die Vader sal herken! Amen.” (26-11-1841)

9. En hulle het dus uit die hut na buite gegaan, waar die weer, alhoewel dit wou voorkom asof dit ietwat bedaar het, met nog baie krag gewoed het. In die verbygaan by Eva, het die hoë Abedam vir haar en die vyf wat by haar gestaan en haar getroos het, gesê:

10. “Waar julle is, daar bly vir solank, tot ons weer terugkom! Wie daar naasteliefde beoefen, die sal weer naasteliefde vind; maar wie omgee vir die swak moeder, die sal op aarde met liefde beloon word; maar wie liefde as loon bekom het, die het ‘n waardevolle pand in sy hand, waarmee hy vir hom die allerkosbaarste sal kan aanskaf.

11. Maar Ek sê vir julle: As die mens sou geweet het, hoe dikwels hy so naby die hoogste geluk is, dan sou hy alles verlaat en dit navolg! Alleen ook dit is goed, dat hy dit nie weet nie; want sou hy dit weet, dan sou hy traag word en die eie grond en bodem onbewerk laat.

12. Daarom bly ook julle hier en bewerk julle grond; want dit kom daar nie neer op ‘n lank tyd nie, maar soms kom dit neer op ‘n minuut. Wanneer gedurende daardie minuut die saad in die grond val, dan kom dit op, en die vinnig gedrewe kiem sal dan binnekort sy nuwe takkies in die lig van die dag uitbrei!

13. Maar Ek is ‘n baie ervare saaier en ken die regte tyd wanneer die saad in die aarde geplaas moet word. Laat daarom hierdie saad vroegtydig opkom, en dryf dit met die warmte van julle harte! Waarlik, daar sal op die vinnig groeiende takke geen gewone alledaagse vrugte ten voorskyn kom nie!

14. Daarom bly, en slaan ag op hierdie woorde!”

15. Na hierdie woorde het hulle uit die hut getree. Maar die vyf, nadat die ses uit die hut gegaan het, het begin, om ondermekaar te vra: “Wie is dan hierdie vreemdeling? Waarvandaan kom hy?

16. Is dit nie hy, wat in die aand met Abedam, wat daar teruggekom het, by ons aangesluit het nie?!

17. Hy lyk andersins soos enige ander mens! Waarvandaan het hy dan sulke wysheid gekry, aangesien ons vir hom tog voorheen nie in ons geselskap opgemerk het nie?

18. Sy toespraak was een van die merkwaardigste wat ons nog ooit verneem het! Hy sê van homself, dat hy ‘n ervare saaier is. En ook dat hy nou ‘n saadjie in ons geplaas het; die sal binnekort opkom en, soos ons dit verstaan, reeds op die volgende, dit wil sê môre se Sabbat, takke, blare en ook buitengewone volryp vrugte dra! Watter vrugte sal dit dan wees?

19. Dit verstaan, wie wil; alleen ons, wat tog almal vir Emanuel Abba gesien en gehoor het en getuies was van al Sy wonderwerke en van Hom opgewek en geseën is, kan die betekenis van hierdie woorde nie verstaan nie!

20. Dit is wel eienaardig, dat ons as die geseëndes dit nie vermag nie, - maar dit is nou net eenmaal so!”

21. Maar vir Enos het uiteindelik die lig in die hut opgeval, en het hy dit ook vir die ander te kenne gegee.

22. En Kenan het toe vir Enos en ook die ander gesê: “Luister, dit is werklik eienaardig, ek kom dit ook nou eers agter! Nêrens kan enige lig gesien word nie, en tog is dit daghelder hierbinne!

23. Hoe is dit moontlik? Wie van ons almal kan dit begryp!?” -

24. Maar Eva het haarself opgerig en het vir die vyf aangedui, deur te sê: “Kinders, hoe vra julle mekaar oor dinge, wat niemand van julle verstaan nie!

25. Luister, die storm het stil geword; rustigheid asem nou weer sagkens oor die hard beproefde vlaktes van die aarde; vanaf die blare van die bome val die laaste druppels van angs, en ‘n koel dou genees reeds sommige wonde, waar die blitse vir die gesonde stamme geslaan het; en oor die oë van die klein, vreesbevange kinders is dalk al ‘n verkwikkende slaap uitgegiet; en almal wat deur hierdie lang uur van skrik dalk tot vertwyfeling gedryf is, sal op hul aangesigte, met nederige harte en opgelos in trane van berou, vir God vir die redding dank.

26. Hoe kan julle julle koppe breek oor ‘n stukkie skaapwol, - maar daarby vergeet van die lewendige skaap?!

27. Die ervare saaier het ‘n heerlike saad in julle geplaas; maar indien julle dit vertrap, dan sal nie baie van die takke die daglig sien nie!

28. Maar dit weet julle mos almal, dat die saad in die aarde moet rus kry, indien dit vrugtedraend moet ontkiem en geseënd moet gedy! Waarom wil julle dan julle saadkorrel geen rus gun nie en probeer dit in plek daarvan met die skerpkant van julle verstand fyn te maal?!

29. Nie net alleen vir hulle, wat daar buite is, het die storm opgehou om te woed nie, maar ook vir julle! Ja ons is almal gered! Dink in plek van julle hoofbrekens eerder in julle harte, wie vir ons gered het, en dank Hom vir die groot barmhartigheid, dan sal daar eerder lig in julle word as deur al julle kop-peinsery!

30. Moet nie vra, wie die vreemdeling is nie, aangesien niemand van julle vir Hom nog ken nie, maar slaan eerder ag op Sy heerlike woord in julle harte, sodat dit binnekort ontkiem en opkom! En wanneer julle dan gedurende die dag die vrug sal sien, sal dit vir julle heelwat makliker wees, om die vreemde heerlike saaier uit die vrug te erken, as wat julle met die duisternis van julle koppe die dag se lig wil aanskou of dalk reeds dink dat julle dit sien!

31. Alhoewel die vrou nie ‘n leraar moet wees nie, is dit tog die moeder se plig, om haar dwase kinders tereg te wys, indien sy dwaashede by haar kinders raaksien. Verstaan dit goed! Gaan na julle harte, en soek daar die lig vir julle duisternis, en swyg! Amen.”

32. Hierdie woorde van Eva het die vyf geweldig ter harte geneem, sodanig dat hulle ook onmiddelik gedoen het, wat hoogs geregverdig Eva in moederliefde van hulle verlang het.

33. Maar wat het die ses ondertussen buite gedoen? Hoe het hulle terwyl hulle na buite gegaan het, die aarde en die kinders op die aarde aangetref?

34. Nog het duisende weerligte die gloeiende wolke deurkruis; honderd berge in die omgewing was nog voluit vulkanies aktief; die see het myle en myle ver teruggetrek; hier en daar het nog woude gebrand wat deur weerlig aan die brand gesteek was; dof het die donderweer gerol; nie selde nie het nog ‘n blits met ‘n geweldige slag in die nog bewende aarde geslaan, en die geween van woudbewoners wat reeds ver weg was, het nog vreesaanjaend uit die diepte weerklink!

35. Dit was hoe dit buite gelyk het. En duisende en nogmaals duisend kinders het in ‘n wye kring om die hut van Adam gelê en het God vir die redding geprys; en bewerige moeders het in trane vir hulle kinders probeer opbeur, wat nie selde nie saam gehuil het; maar sommige het reeds doodmoeg op die skote van die snikkende moeders aan die slaap geraak.

36. En die ses het rond gegaan en het alles bekyk en het die teneer gedrukte harte van die vaders en die moeders getroos.

Hoofstuk 162 Mobiele weergawe Kommentaar