Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 26 Die Huishouding van God, Boek 1

Hoofstuk 26

1. En nou gaan ons vir ‘n kort rukkie terug na die tyd van Hanoch, en Ek wil vir julle daar in die verbygaan wys, hoe dit daar net na ‘n tydperk van dertig jaar gelyk het!

2. En sien, Hanoch het nou vir hom die allermooiste vrou uitgesoek en daarby nog twee byvroue en het met hulle uitermate ontug gedryf. Daardeur het sy verstand sodanig verdof, dat hy heeltemal van sy hele regering vergeet het; en die min gedagtes, wat hy nog skaars in staat was om te dink, het net om gemaksug, glans, sagte klere en hoerery gedraai.

3. Solank as wat sy onderdane net baie en smaaklike geregte van allerlei soorte vrugte gebring het en baie glanstoertjies voor sy woning uitgevoer het en sagte klere, wat van die fynste grassoorte wat aan die voet van die berge gegroei het, gevleg was, vir hom aangedra het, was hy daarmee heeltemal te vrede en het daarby die wette wette en die regering regering laat bly.

4. Maar sien, toe het sy onderdane dit agtergekom dat hy laat slap lê het, en het sy blindheid uitgebuit. Toe het ook sy bediendes dit agtergekom, hoe sake staan, en was baie geslepe en slim, soos die slang self, en het dus probeer om hulle heerser op alle moontlike maniere voortdurend aan die slaap te hou en het ook met leuens aan die onderdane, alle moontlike vermaaklikhede toegestaan - so te sê as ‘n toegeeflikheid van die vors -, wanneer hulle met ywer hulle steeds toenemende gawes aan hulle gelewer het.

5. En sien, toe die diensknegte nou agtergekom het, dat hulle ongestraf kan doen, wat hulle wil, het hulle begin om te regeer en het vir die onderdane wette gegee: Eerstens, om vir die vors allerlei goddelike verering te betoon, deur menigte offers te bring, en tweedens, om die mooiste dogter van enige onderdaan vir die vors te gee; en die gelukkige gewer sal dan van die lewering van goedere aan die vors vrygestel wees, en sal ‘n vrye eienaar van sy huis word en sal toegang tot die vors se huis verkry en sal daar met die diensknegte geselskap kan voer en sal eenmaal per jaar die vors kan sien en hom vir sodanige groot, uitsonderlike genade kan dank.

6. En sien, toe het die slang ‘n ware geniale slag geslaan, soos julle dit sê! Want nou het die ouers begin, om hulle dogters altyd by die huis te hou, en het alle aandag daarop gespandeer, sodat hulle tog net teer en mooi moet word, om moontlik daardeur ook die stand van vryheid te verkry. En sodanige skoonhede het dan ook nie meer vir die gewone mans meer gekyk nie, aangesien hulle gevoel het dat hulle vir die vors bestem was.

7. Wat het nou deur hierdie wedersydse bedrieëry gebeur? Niks anders as die aller ergste, wat julle vir julle ooit deur die laagste gedagtes kan voorstel, naamlik: Die diensknegte het uiteindelik die hele regering onder die slim voorwendsel, wat hulle vir die vors Hanoch slinks verduidelik het, oorgeneem, naamlik dat hy nou nie meer ‘n vors is nie, maar ‘n God van die volk is, en dat dit vir die oneindige hoogheid en onuitspreeklike verhewendheid, soos dit sy goddelikheid nou betaam, onwaardig sou wees, om vir die wurms van die aarde wette te gee, en dat hulle, uit onbeperkte eerbied vir sy bo alles verhewe heiligheid, hierdie onwaardige taak sal wil oorneem; en hy niks moet doen, behalwe om bloot net met ‘n wenk óf sy goed- óf sy afkeur te uiter en die skatte, wat hulle in groot hoeveelhede vir hom sal versamel, genadiglik en as ‘n huldeblyk aan te neem.

8. Dan moet hy homself vir die volk net eenmaal per jaar wys, waar dan almal voor hom sal neerval en in die stof vir hom sal aanbid; en indien hy vir iemand van die wurms vol stof, ‘n besondere genade sou wil betoon, dan moet hy dit doen deur vir hom met sy heilige voet hard teen die kop te skop.

9. En indien iemand hierdie groot genade sal oorkom, deur moontlik die opoffering van ‘n mooi en prikkelende meisie, dan moet hy van die grond af opgetel word en vir die goddelike hoogheid van alle mag en krag kyk en sal hy dan ‘n vryburger van die heilige stad van die verhewe God Hanoch word.

10. En sien, hierdie mooi praatjies van sy diensknegte het sy eieliefde en ydelheid sodanig gestreel, dat hy tot alles onmiddelik en volledig ingewillig het. O die ongelooflike dwaas!

11. En sien, nou het die diensknegte bereik, waarna hulle al lankal gestrewe het, naamlik die wetgewing, strafoplegging en sodoende die hele regering, en so het in plek van een vors nou tien vorste ontstaan, wat daar tussen mense, wat hulle broers was, en enige ander diere ook nie die geringste onderskeid gemaak het nie en het vir hulle in redelike en onredelike ongediertes verdeel. En net, wanneer enige sodanig redelike dier tot hulle voordeel ‘n slim-bose plan tot uitvoering gebring het, dan is aan hom die reg toegestaan, dat hy hom ook ‘n mens mag noem.

12. En toe hierdie tien vorste gesien het, dat hulle wette blindelings deur die dieremense nagekom word - natuurlik uit te groot vrees vir die oneindige mishandelings -, het elkeen van hulle mettertyd ook tien bediendes uit die vrye burgers van die stad gekies en het vir hulle, saam met hulle vrouens en kinders, tot ‘n tipe adelstand verhef. Maar daarvoor moes natuurlik hulle dogters, indien hulle genoegsaam mooi en prikkelend was, vir hulle as hoere gegee word, waarmee hulle honderde en duisende kinders verwek het, wat dan almal vir die dieremense gegee was om groot te maak; en wanneer hulle volwasse was, dan het die manlikes ook dieremense geword, terwyl die vroulikes, indien hulle deur die slinksheid van die slang meestal baie mooi en prikkelend was, ook weer tot hoere gemaak was en dit al dikwels op die ouderdom van twaalf jaar waardeur hulle dan onvrugbaar geword het. En wanneer hulle dan na ‘n kort rukkie al hulle aantreklikheid verloor het, is hulle na die diere uitgestoot en moes vir hulleself werk en is ‘Huhorä’ genoem, wat volgens julle begrip beteken ‘mense, wat die vee versorg’.

13. En sien, so het hierdie lewenswyse meer as dertig jaar voort geduur. Maar dan, aangesien die mense hulleself op hierdie ontugtige manier tot etlike honderdduisende vermeerder het en oor die lengte en breedte van die land versprei het en dus nie meer beheer kon word nie, is met die inwilliging van Hanoch, die God wat nou heeltemal krag- en dadeloos geword het, en sonder dat hy agterdogtig geword het, nog tien stede gebou en is na die name van die tien vorste vernoem, wat daar geheet het:

14. Kad (die dief), Kahrak (die hoermeester), Nohad (die bedrieër), Huid (die bose), Hlad (die koue een), Uvrak (saad van die slang), Farak (die grusame), Molakim (die leuenaar), Uvrahim (die fyn huigelaar) en Thahirak (die groot sondaar).

15. En nou sien, elkeen van hierdie stede was presies volgens die patroon van die stad Hanoch gebou; en so was daar ook in die middel van elke stad ‘n hoë kasteel gebou, net soos die hoë woning van Hanoch, en was deur ‘n wal en ‘n sloot omring. Maar dink net, omdat die mense destyds nog geen werktuie, soos: koevoete, grawe, pikke en hamers gehad het nie, moes hulle hulle hande gebruik en met hulle vingers die aarde soos muise omdolwe!

Hoofstuk 26 Mobiele weergawe Kommentaar