First edition German English Afrikaans Serbian Slovak Czech Spanish Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 2 Van die Hel tot die Hemel

Die eerste indrukke van die tereggestelde in die hiernamaals. Sy bewuswording van die gevoel van lewe

[1.2.1] Nou is die vraag: Hoe het sy siel en sy gees in die ewige geesteswêreld aangekom?

[1.2.2] Hier moet opgemerk word, dat diegene wat hulle aardse lewe gewelddadig deur `n strafgerig verloor het, meestal met `n gevoel van hewige woede en wraak ten opsigte van die regters, in die geesteswêreld aankom, en vir `n tyd lank rasend rondtol. Dit is die rede waarom dergelike nuwe aankomelinge, as hulle werklik `n misdaad teenoor God se gebooie gepleeg het en deur en deur boosaardig is, skielik in hulle eie element, die hel, ingedryf word om daar wraak uit te oefen. Wanneer hulle wraak enigsins afgekoel is, keer hulle weer terug na die geesteswêreld en begin daar opnuut, weliswaar langs `n heel beperkte weg, met hulle vryheidsbeproewing.

[1.2.3] Geeste egter, soos van ons man hier, wat daar aankom en slegs veroordeel is weens politieke misdade teen wêreldse wette, word aanvanklik slegs in `n liglose toestand geplaas. Dit is dan asof hy blind is, en hy sien daardeur geen enkele wese waarop hy sy blinde wraak kan afkoel nie. Hewige woede en sterk wraakgevoelens het reeds by die mense in hierdie wêreld die gevolg dat hulle gewoonweg blind word van toorn en siedende woede. Des te meer bring hierdie bose eienskappe in die hiernamaals die siel en die gees in `n toestand van volkome blindheid. Sulke geeste word in hierdie situasie gelaat, totdat hulle wraak afgekoel en oorgegaan het in `n gevoel van onmag. Die diep gekrenkte en beledigde siel begin by die opkomende gevoel van onmag te huil, wat weliswaar ook uit woede voortkom, maar wat geleidelik afneem.

[1.2.4] Hier op aarde kon ons man niks anders gedoen het as om sy manlike eer soveel as moontlik te red nie. Daarom toon hy by sy teregstelling, ook vasberade en vol veragting, sy veragting vir die dood, wat egter in werklikheid gladnie die geval was nie. Want hy het baie deeglik sy angs vir die dood gevoel, en soveel sterker omdat hy as oortuigde Nuwe-Katoliek glad nie geglo het in `n lewe van die siel na die verlaat van die liggaam nie.

[1.2.5] Maar ongeveer sewe uur na sy teregstelling, toe sy siel as`t ware tot haarself gekom het, was hy gou oortuig van die ongegrondheid van sy aardse geloof en het hy spoedig gewaar geword dat hy verder leef. Maar nou verander sy oortuiging aangaande die voortbestaan na die dood in `n ander ongeloof: Hy dink nou by homself dat hy wel na die plek van die teregstelling gebring was, maar slegs vir die skyn doodgeskiet was, om die doodsangs ten volle deur te maak. Omdat die offisier hom laat blindoek het, sodat hy nie sou merk dat daar slegs in die lug geskiet was nie, was hy slegs deur angs verdoof en het inmekaar gesak. Daarvandaan was hy in `n bewustelose toestand oorgebring na `n donker kerker, waaruit die protes van die Duitse burgers hom sekerlik spoedig sou bevry.

[1.2.6] Slegs die totale duisternis hinder hom nou. Die plek waar hy hom bevind, lyk vir hom na `n donker hool, wat hom tog nie die indruk gee om vogtig te wees of om te stink nie. Hy betas ook sy voete en hande en konstateer dat hy nêrens bloei nie. Ook probeer hy die grootte van sy kerker ondersoek en om te voel waaruit die vloer bestaan, en of daar in sy nabyheid sprake is van een of ander ontsnappingsroete.

[1.2.7] Hy is nie min verbaas wanneer hy glad geen vloer kan ontdek nie, en ewemin die muur van sy kerker, en verder is daar ook niks te vinde wat na `n hangmat lyk nie, waarin hy homself miskien in die vrye katakombe-agtige ruimte sou kon bevind nie.

Hoofstuk 2 Mobiele weergawe Kommentaar