Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 3 Van die Hel tot die Hemel, Boek 1

Robert waan homself onder narkose

1. Hierdie saak het vir hom sonderling en bedenklik voorgekom. Hy ondersoek ook sy gevoel, of dit nog wel in sy ledemate aanwesig was. Deur flink sy sieleliggaamsdele te knyp en te vryf, stel hy vas dat sy gevoel beslis nie dood is nie, maar inteendeel al te lewend is.

2. Nadat hy hom van alle kante oortuig het, dat hy volkome lewend is en van geen kant op enigerlei wyse opgesluit is nie, behalwe dan in die nag en duisternis, vra hy hom dan uiteindelik wanhopig af:

3. "Wel alle duiwels, waar is ek tog? Wat het die bloedhonde tog met my gedoen? Hulle het my nie platgeskiet nie, want dan sou ek nie gelewe het nie! Hulle het my ook nie opgesluit nie, want ek vind nóg die muur, nóg die vloer en ook geen boeie om my ledemate nie! My gevoel werk ook nog perfek; ook het ek nog my oë, hulle is nie uitgesteek nie, maar tog sien ek niks! Werklik, dit is vreeslik eienaardig! Hierdie mensehater, wat my pro forma laat neerskiet het, het my miskien deur `n onbekende narkotikum laat inslaap, waardeur ek my in hierdie toestand bevind. Wag maar, jou tiran, jou volkerereg-moordenaar, wanneer ek uit hierdie narkose kom, verheug jou dan maar! Ek sal jou terdeë terugbetaal!

4. Die toestand sal nie vir ewig duur nie. Mense sal my in Frankfurt en in die hele Saksiese streke laat soek. Ek moet sien om daar te kom! As ek eenmaal daar is, sal ek jou leer wat se misdryf dit is om jou so meedoënloos te vergryp aan `n belangrike gedeputeerde van die Ryksdag! Daarvoor sal geboet word op `n manier waarvan in die hele wêreldgeskiedenis geen voorbeeld te vinde is nie!

5. As ek maar tog gou uit hierdie eienaardige narkose gewek kan word. Ek dors na wraak en hierdie lastige situasie duur nog steeds voort. Dit is tog werklik `n duiwelse vervloekte uitvindsel! Wees maar geduldig, dit sal gou weer beter gaan!"

Hoofstuk 3 Mobiele weergawe Kommentaar