Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 79 Van die Hel tot die Hemel, Boek 1

Die plegtige raadsvergadering. Die vraag van die Heer: Wat moet daar met die Aarde gebeur? Adam, Noag, Abraham, Isak en Jakob spreek.

1. Na enige tyd van algemene stilswye vra Helena My saggies: "Heer, wie sal dan nou die woord neem? En wie is die eerbiedwaardige man wat naas my sit?"

2. Ek antwoord haar eweneens saggies: "My liefste, Ek sal self begin om te spreek, so gou as wat die gemoedere van al die aanwesiges heeltemal tot die noodsaaklike rus gekom het. Die man wat naas jou sit, is vader Adam, soos hy ongeveer ses duisend jaar gelede op aarde as die eerste geskape mens geleef het. Langs hom sit vader Noag, en daarnaas vader Abraham, dan Isak en dan Jakob. Dan sien jy nog twee: die eerste is Moses en die ander is Dawid. Die ernstig lykende manne wat na hierdie sewe volg, is jou welbekende twaalf Apostels.*(Met inbegrip volgens Handelinge 1:26, daarby die gekose Matthias.) Agter hulle staan nog twee Apostels: die voorste is Paulus, en die een wat agter hom staan, is Judas – die een wat My verraai het. Die ander mense ken jy al lankal. En nou weet jy in watter merkwaardige geselskap jy jou bevind!

3. Wat egter alles in hierdie vergadering bespreek sal word, sal vir jou aan die einde volledig duidelik word. Let nou egter op! Die gemoedere van die geselskap het nou tot ruste gekom, en daarom sal Ek nou dadelik begin om te praat. Maar jy moet nie skrik as Ek soms ietwat skerp sal spreek en ook velerlei verskynsels voor ons verby sal trek, wat sekerlik nie `n aangename aanskyn sal hê nie. Hou maar aan My vas en jy sal dadelik versterk word.

4. Daarop wend Ek My tot die geselskap met die vraag: "My kinders, My vriende! Ek, julle allerewigste Vader, God en Heer, en Skepper van die oneindigheid, vra julle: Hoe beskou julle almal nou die aarde? Wat wil julle hê, moet Ek met haar doen?"

5. Adam sê: "Heer, U ewige liefde, die aarde was nog nooit so sleg soos nou nie, en ook U liefde was nog nooit so groot soos nou nie. Handel met haar na aanleiding van U liefde. Want sien; die see, die versiende oog van die aarde, het blind geword. Ontbrand `n magtige vuur daarin en laat daar deur geweldige vlamme lig word in die afgronde, sodat alle monsters daardeur skrik en van smaad vergaan, want dit is hulle uiteindelike loon vir hulle duistere dade. So sien ek dit as die eerste mens op hierdie aarde."

6. Daarop sê Noag: "Heer, tot U het ek altyd gebid en trou geglo en die liefde bewaar. Toe Mahal, my broer, so `n vierduisend jaar gelede die verlange gekry het om sy blik van die heilige hoogte op die laaglande te rig en `n reis na Hanoch te maak, waar Drohuit en Fungar Hellen so vreeslik huisgehou het, en toe `n dogter van Mahal koningin word van die laagland…sien, toe roep U my en toon aan my, hoe ek `n geweldige groot Ark moet bou vir die redding van my klein familie en baie diere wat deur U mag vanuit alle windstreke van die aarde in die ruimte van die Ark ingejaag was.

7. Ek het gedoen soos wat U, o Heer dit gewil het. En die gebeurtenis wat daarop gevolg het, het my en my gesin geleer hoe goed dit was, dat ek U onvoorwaardelik gehoorsaam het. Toentertyd was die mensdom sleg en boosaardig en het kwaad op kwaad aangerig op die bodem van die aarde en het die werke van U hande op `n afskuwelike manier ontwy. Maar tog het alles wat daar plaasgevind het, binne `n bepaalde, skerp begrensde orde gebeur. En leuens, hoogmoed en duiwelse heerssug het byna iedere sterfling vervul, soos wat hulle verteenwoordig was op hierdie aarde.

8. In dié tyd was die mense ook besonder wreed en sommige van hulle dade was sonder weerga. En nou het die mense hiënas en tiere geword en begaan wreedhede, waaroor die gehele oneindigheid huiwer. Destyds het U `n verskriklike watervloed oor die sterflinge gestuur en alle boosdoeners het verdrink. Wat gaan U nou weer doen, o Heer? Ek ken egter die grootsheid van U liefde. Ek weet ook dat dit U berou het om die mense destyds so te laat verdrink; want daar was ook baie kindertjies daarby, wat nog aan die bors van hulle moeders gesoog het. Sou dit U ook nou weer berou, as U die tans duisend keer vuiler aarde deur `n geweldige vuur sou suiwer, sodat dit weer waardig kan word om deur U voete betree te word!?

9. Daarna swyg Noag. En die ou vader Abraham staan op en vra of hy die woord mag neem. Ek sê aan hom: "Spreek, want aan jou is die belofte gemaak en dit moet nou vervul word!"

10. Abraham sê: "Heer, duisend of tien duisend jaar is vir U soos een dag, want uit U kom tyd en ruimte voort, maar U stel Uself as meester oor beide aan. En die verste verlede, net soos die verste toekoms is voor U soos die geskiedenis van een dag! Liefde is U wese en U wysheid die grootste goedheid. Sag soos wol is U gemoed en matig soos `n aandbriesie in die lente is U hart. Al U weë staan bekend as erbarming, en U leiding is die geregtigheid van U hart!

11. Toe ek in die land Kanaän met my broer gestry het oor die verdeling van die grond, spreek U my hart aan en vind dit bereid tot inskiklikheid. En sien, U raak my siel aan en ek spreek met Lot: "Broer, vry is jy om te kies. Kyk hoe groot die bodem van die aarde is. Waarom sal ons dan twis oor die verganklike besit daarvan? Jy mag wegtrek of bly! Trek jy na die weste, dan trek ek na die ooste, sodat daar vrede en eendrag mag heers tussen ons en hulle wat ons sal volg. As jy egter wil bly, swaai dan met jou staf in die streek waarheen jy wil dat ek moet heengaan, en ek sal handel volgens jou wil. Maar ons kan nooit tesame hier woon nie, as jy nie die weg van vrede wil bewandel nie!"

12. En Lot het na my woorde geluister, dit ter harte geneem en gespreek: "Broer, ek het die weste vir my uitgekies; daarheen wil ek trek. Dit staan jou egter vry om te bly of te trek na die noorde, die suide of die ooste. Waarheen jy ookal mag trek, vergeet Lot dan nie. En ons sê groete aan mekaar en vertrek; hy in `n westelike rigting en ek in `n oostelike rigting

13. Maar in die ryk geweste verhef die volk van Lot hulle spoedig in groot welstand, bou Sodom en Gomorra en begin steeds doller te word. Ek het afgesante na Lot gestuur, maar sonder resultaat. Verskeie van hulle was gedood, en die weiniges wat teruggekom het, het steeds slegte berigte saamgebring. En sien, in hierdie tyd het U weer my hart beproef, en dit was regverdig deur U bevind. En U het boodskappers vanuit die hoogte na my toe gestuur en hulle het my meegedeel wat U planne was met Sodom en Gomorra. Ek het hewig geskrik daaroor, U om verskoning gesmeek en het die regverdiges vir U voor oë gehou. Maar U oog het geen regverdiges gevind nie, behalwe Lot. En sien, o Heer, hom het U gered! Maar Sodom en Gomorra het U laat verwoes deur vuur van bo af.

14. Toe beide stede met al hulle inwoners en hulle vee in die poel begrawe lê, het U hart na daardie plek omgesien. En die harde gerig oor Sodom en Gomorra het U daarom wel berou, en U het met my `n Verbond gesluit en my die belofte gegee om dit na te kom as blyk van U grote barmhartigheid.

15. En soos U my belowe het, het U tot op hierdie tydstip ook alles in vervulling laat kom. Maar U beloftes reik nog eindeloos ver verby hierdie oomblik. O Heer, dink tog aan daardie, met my gesluite Verbond, omdat alle volkere van die aarde weer in `n geweldige gistingproses verkeer. U ken die vyande van U kinders en U ken hulle hebsug, hulle onbuigsame wil. Sien U nie die baie wolwe, hiënas en tiere, gewetenloos en sonder skaamte woel in die ingewande van U lammers, en hulle verskeur hulle met hulle draketande!? O Heer, as U Sodom en Gomorra kon tugtig, gryp nou ook die wolwe, hiënas en tiere en slag hulle as `n soenoffer vir al die onreg wat hulle teenoor U kinders begaan het! Maar spaar die bloed van die regverdiges en dié van U kinders!"

16. Daarop verhef Isak hom en sê: "O Heer, ek is die eerste loot, wat tevoorskyn gekom het aan die groot lewensboom van U belofte, wat U met my vader Abraham aangegaan het. Al baie oud en amper geheel verdor staan terselfdertyd die lewensboom van U kinders in die tuin van die liefde, terwyl die slang en haar gebroedsel al die streke van die aarde weelderig vul! Maar U, o Heer, aanskou die geheel verdorde lewensboom van U kinders en skenk weer lewe aan hulle vanaf die wortel tot in die kruin en U gee hom `n nuwe, heilige groeikrag. En sien, ek was die eerste lewende uitloopsel aan die takkie van hierdie heilige boom!

17. Abraham het `n groot vreugde ondervind by die aanblik van die eerste hoopvolle groen bloeisel. Maar U, o Heer, behaag dit om sy vrede te versteur en om sy geloof te beproef. U gebied hom om my te slag en op die brandstapel te offer. Dit doen U om die slang te toon, hoe sterk die geloof van U seun Abraham was. Toe Abraham egter deur sy gehoorsaamheid die mag van sy geloof bewys het, lei U deur die struikgewas van die berg `n bok, as lewende simbool van Satan en sy heerssug. Die horings van die bok raak heeltemal verstrik in die struikgewas, wat `n teken was van sy weerspannigheid, sy ongehoorsaamheid, sy hoogmoed en sy gretige heerssug. My vader moes toe hierdie bok gryp, hom slag en hom in my plek op die brandende offeraltaar lê.

18. O Heer, as U destyds die wêreldse bok in die struikgewas kon dryf en hom as teken van `n regverdige versoening op die offeraltaar kon lê, doen dan nou ook iets in werklikheid. Want toe was die bok slegs `n sinnebeeld, soos ekself `n voorteken van U koms op aarde en van die tweede skepping deur U groot verlossingswerk was, so het hierdie bok op die aarde in werklikheid so groot geword, dat sy horings nou reeds tot in U hemel reik. Rig dan nou `n groot brandofferaltaar op oor die hele aarde. Gryp die skandelike dier, wat met sy magtige horings in die digste wêreldse struikgewas totaal verstrik geraak het, slag hom en werp hom dan in die magtige vuur van die groot brandofferaltaar!

19. O Heer, aarsel nou nie meer nie; laat die baie groen blare aan die boom van die lewe nie meer afgevreet word deur die sondige vraatsug van die dier nie, maar handel volgens U belofte! Want sien, die tyd het nou in sy volle rypheid ontwikkel en U kinders roep nou luidkeels: "Vader, besluit nou! Laat U regte nou geld! Gryp die byl van U geregtigheid en slag die dier, wat met sy horings al aan die fondamente van die hemel begin te stoot!" Amein!"

20. Daarop sê Jakob: "O Heer, U het met my gestoei en het my nie verder laat trek nie. En toe ek U vasgryp, slaan U my `n geweldige hou teen die heup, sodat ek daarna my hele lewe lank nog mank geloop het. Maar die slag het my geen pyn aangedoen nie, want ek het uit liefde met U gestoei. Maar desondanks ondervind alle nakomelinge die gevolge van hierdie slag en hulle voel die pyn wel! En sien, dit alles het nou die hoogste graad bereik. O, bevry U nou tog uiteindelik die kinders van daardie groot slag en van hulle pyn!

21. Veertien jaar het ek gedien, ter wille van die hemelse Ragel, maar U gee my die aardslelike Lea. Ek het haar geneem en nie daaroor gemor nie. Ek moes nog veertien jaar dien en vervolging ly ter wille van die hemelse Ragel. Toe gee U haar wel aan my, maar sy moes onvrugbaar bly, sodat ek `n ander skoot in haar skoot moes lê om my saad lewe te gee. O Heer, dit was `n harde beskikking van U!

22. Neem egter nou U hardheid terug. Neem Lea haar vrugbaarheid af en gee dit ruimskoots aan Ragel, sodat die aarde vir altyd bevry kan word van die slegte gebroedsel van die slang, en dat die aarde alleen betree mag word deur die kinders van die hemelse Ragel! O laat Josef en Benjamin eers tot werklike kinders uit die skoot van die hemelse Ragel word en laat die bron van Lea uitdroog!"

Hoofstuk 79 Mobiele weergawe Kommentaar