Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 233 Van die Hel tot die Hemel, Boek 2

Die verdere lotgevalle van die priesters van die katedraal-kerk. Die wese van die wysheidsgeeste en hulle moeisame bekering tot die liefde. Die militêre patrollie in die hiernamaals

1. Wanneer ons onsself buite op die Stefanusplein bevind, trek daar juis `n militêre troep by ons verby.

2. Robert kom na My toe en sê: “Liewe Vader, hierdie soldate lyk tog ietwat vreemd! Is hulle uit `n vroeëre of uit die huidige tyd? Uit die tyd van my aardse lewe is hulle seker nie. Toe was die kleding baie anders. Hulle lyk ook nie asof hulle uit vroeëre tye kom nie, omdat baie skilderye en tekeninge aan my bekend is. Hulle moet tog van hierdie tyd wees, miskien geklee volgens die smaak van die jong keiser, wat nou in Oostenryk die septer swaai.”

3. Ek sê: “Ja so is dit! Dié jaar is daar baie soldate deur tifus en cholera en baie ander siektes uit hulle liggame verlos. Omdat hulle nou eenmaal tot die militêre stand behoort, bly hulle ook na die aflegging van hulle liggaam nog trou aan hierdie stand en verskyn hier as soldate. Hulle weet ook nie dat hulle gesterf het nie. Wel weet hulle dat hulle siek in die hospitaal beland het, maar hulle glo dat hulle deur `n goeie geneesmiddel in `n verkwikkende slaap geval het en daarna in die oggend fris en gesond opgestaan het.

4. Dit is ook goed dat hulle nie weet dat hulle gesterf het nie, omdat dit vir hulle `n oordeel sou wees. Hulle moet eers geleidelik aan, geheel ongemerk, voorberei word. Aanvanklik slegs deur verskynsels waardeur hulle tot `n sekere insig sal kom, sodat die wêreld waarin hulle nou lewe, vir hulle steeds vreemder sal voorkom. Dit sal hulle gemoed steeds onrustiger maak. Hulle sal ook in allerlei ongunstige situasies en oënskynlike gevare beland, sal dan beskerming en hulp soek en sal dikwels probeer om aan skynbare agtervolging te ontkom. Maar hulle sal geen egte toevlugsoord vind nie en sal dan dikwels genoodsaak wees om hulle aan die agtervolgers oor te gee. Soms sal hulle egter in onafsienbare woestyne beland, waaraan nouliks `n einde sal kom. As hulle dan al by een of ander einde kom, dan is dit gewoonlik nog baie erger as die woestyn self. Om kort te wees, al hierdie siele, wat hulle nog heeltemal in die natuurlike lewe bevind, sal nog `n soort dood moet deurmaak voordat hulle gees kan vryword.

5. Dit het jy ook by hierdie priesters kon sien. By die angs vir die verskyningsvorm van die vlammende hellepoort het hulle byna soos dooies gelyk. Na `n rukkie sal hulle weer ontwaak en hulle weliswaar nog in die kerk bevind, maar die gebeure sal vir hulle soos `n afskuwelike droom voorkom. Hulle sal dan wyn en brood vind en omdat hulle redelik honger en dors sal wees (wat steeds die geval is as die gees in die siel vryer en wakkerder word), sal hulle ook gretig daarna gryp en dit verorber. Die geopende geskrif naas die brode sal hulle duidelik maak hoe hulle aan die hel, waarvoor hulle `n ontsettende angs het, kan ontkom. Hoewel enkeles van hulle tydens hulle aardse bestaan nie in die hel geglo het nie, het die beeld daarvan hulle tog bygebly. Nou het hulle die geopende bek en sy verskriklik lykende vlamme gesien, waardeur die aaklige beeld vir hulle verwesenlik was. Daardeur het hulle ongeloof, wat die hel aanbetref, weer tot `n lewende geloof geword. Daarom sal hulle volgens die aanwysing van die geskrewe opdrag in alleryl opbreek en hulle na buite begewe.

6. Wanneer hulle die kerk sal verlaat, sal hulle geen stad meer sien nie, maar slegs `n oop, vry landskap. Daar sal hulle dan bepaalde reisigers ontmoet, wat hulle in My Naam verder na hulle bestemming sal lei. Oor hulle hoef ons onsself regtig nie meer te bekommer nie. Oor ongeveer dertig jaar sal hulle heeltemal geskik wees vir die laer wysheidshemel. Dit sal moeilik vir hulle wees om ooit hoër te kom, omdat by hulle die orgaan van die liefde (omdat dit nooit geoefen en versterk was nie, onvoldoende ontwikkel het.) Daarenteen het hulle die orgaan van die baie veelsydige wysheid te veel ontwikkel en kan om dié rede nooit deur hulle swak liefde gedomineer word nie. Sodoende kan die verhouding tussen liefde en wysheid nooit tot stand kom nie, wat nodig is om tot in `n hoër hemel te kan opstyg.

7. Dit is weliswaar geen absolute onmoontlikheid dat ook geeste van die onderste wysheidshemel na `n hoër hemel kan oorgaan nie, maar dit gaan altyd baie moeilik wees, omdat die wysheid steeds meer behae skep in bespiegelings as in die werklike daad. Die wyse skep slegs genoegdoening daarin as hy andere deelgenoot kan maak van sy diepe insigte, terwyl die eintlike liefdesgees slegs na die goeie en ware wil handel. Omdat die gadeslaan, die aanskouing en beredenering egter baie makliker is as die handelinge, is geeste van die onderste hemel ook altyd baie moeilik na `n hoër hemel te bring. Die meestal passiewe gemaksug is vir hulle beter as die mooiste en beste handeling. Sulke geeste kan slegs deur `n sekere eentonigheid, van die verskynsels wat onder hulle oë gebring word, maar daarnaas ook deur stimulerende voorbeelde, tot dade aangespoor word. As hulle `n keer tot handelinge oorgegaan het, dan gaan hulle wel vooruit, maar in die begin kom hulle verskriklik moeilik aan die gang.

8. En so, My beste Robert, sal dit ook met hierdie priesters gaan, en wel op die wyse soos wat Ek jou nou net getoon het. Hulle sal nog baie harde neute te kraak kry, voordat hulle die onderste wysheidshemel sal binnegaan.

9. Met hierdie troep militêre daarenteen sal ons dit makliker hê. Hulle het nou eers voor ons op die plek gehalt, omdat hulle ons opgemerk het. Hulle is hier op patrollie en is nou van plan om ons te vra wat ons hier doen. By hierdie geleentheid sal ons hulle dadelik waarheidsgetrou meedeel wie ons is en wat ons wil hê en ons sal hulle dan uitnooi om ons te volg na die ryk van die lewendes. Maar, My beste Robert, nou is jy weereens aan die beurt. Jy moet hier namens ons almal die woord voer. Let daarom maar baie goed op!”

Hoofstuk 233 Mobiele weergawe Kommentaar