Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 2 Skriftekste

`n Teenwerping en sy weerlegging 

(21 Desember 1843 se aand)

1. Mens sou kon sê: “Dit is volkome waar dat lees alleen ware vrugte afwerp deur daadwerklik na dit wat gelees is, te handel; maar as iemand soveel stof aangebied kry, kan hy dit tog gaandeweg tersyde plaas en slegs soveel daarvan lees as wat hy meen hy in dade kan omsit. 

2. Neem nou net die groot hoeveelheid stof van die Ou- en Nuwe Testament en daarnaas die enorme massa waarheidsgetroue Bybelverklarings! As mens dit alles slegs sou lees om ook daarvolgens te handel, sou mens gedurende sy hele lewe hoogstens `n paar hoofstukke kon deurwerk.” 

3. Ek sê egter: Vanuit dié standpunt gesien, het die teenspreker wel deeglik gelyk; want as mens maar net dit wil lees waarvan mens duidelik oortuig is dat hy dit in dade kan omsit, sou `n paar hoofstukke nog te veel wees! Maar van `n ander kant bekyk, is die stof wat aangebied word, nooit te veel nie en kan die leser alles dadelik in praktyk bring. 

4. So sou mens byvoorbeeld ook kon sê: As `n boer `n groot vrugbare akker besit wat hom `n honderdvoudige oes oplewer, waarom saai hy dan nie die hele akker in nie? `n Tiende deel daarvan bring immers al voldoende op om in sy eie behoefte te voorsien. 

5. Maar Ek vra jou: As die boer die hele akker saai met goeie graan en die akker hom `n honderdvoudige oes oplewer, waarvan `n tiende deel genoeg is vir sy eie onderhoud, sal die oortollige nege-tiende deel hom dan skaad? Sekerlik nie! Want die helfte van die oorvloed kan hy verdeel onder behoeftige mense, wat hom baie dankbaar sal wees daarvoor en die ander helfte kan hy na die mark bring. En omdat dit goeie graan is, sal hy baie kopers vind wat `n gunstige prys daarvoor wil betaal, en die verdiende geld kan hy dan gebruik vir sy verdere bedryfsuitgawes en hy sal daardeur `n geagte en ryk boer word.  

6. Wel, uit dié voorbeeld blyk duidelik, dat as iemand `n goeie akker besit en daarnaas oor baie en goeie saad beskik, hy nie suinig moet wees met die saai nie. Want wie ryklik saai, sal ook ryklik oes, maar wie suinig saai, sal suinig oes. En wat is nou daarvoor nodig? As die grond van die akker goed bewerk is, kan jy baie graan daarop saai en geen korrel sal in die goeie aarde verlore gaan nie, maar sal tot `n ryk aar uitgroei.  

7. Netso is dit met hierdie aangeleentheid, wat betref die geestelike saai van die woord, deur middel van die lees. 

Hoofstuk 2 Mobiele weergawe Kommentaar