Help

jakob-lorber.cc

Hoofstuk 4 Skriftekste

“Ek is die weg, die waarheid en die lewe; niemand kom tot die Vader behalwe deur My nie.” (Johannes 14:6) 

(27 Desember 1843 se aand)

1. Sal dit moeilik wees om nog `n sentraalson hierheen te bring? Nee, nie in die minste nie! Ons hoef slegs die eerste en die beste teks uit die Nuwe Testament aan te haal en daar staan al `n nuwe sentraalson voor julle met dieselfde oerlig en met dieselfde krag en uitwerking. Byvoorbeeld: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe; niemand kom tot die Vader, behalwe deur My nie.” 

2. Kyk, daar het ons meteens alweer `n sentraalson. Wie haar lig in sy binneste kan sien, die sal met `n dergelike beligting sekerlik insien, dat maar net te lees so goed as geen uitwerking het met betrekking tot die verkryging van die ewige lewe nie. 

3. Die Vader is die ewige Liefde in My, soos ook Ek in My hele Goddelike Wese in alle ewigheid volkome in Haar is. Want Ek en die Vader is één, of Ek en My ewige Liefde is één, of soos die Liefde ewig lewend in Haar Wysheid woon, so woon ook die Wysheid ewig in die Liefde waaruit Sy voortkom. 

4. Die Vader of die Liefde is die oorsprong van alle lewe; en wie nie tot hierdie lewende oerbron van al e lewe terugkeer nie, bly dood en kan nêrens anders lewe verkry nie. 

5. Waar is egter die deur tot die Vader? En wie is hierdie deur? Is dit die baie boeke en geskrifte wat iemand lees, of is Ek dit? 

6. Ja, mens kan hier eerder maar dadelik hiermee instem en sê: “Ja, as mens die leer van Christus noukeurig ondersoek, sal mens nie ligtelik `n ander mening toegedaan wees nie as dat mens slegs deur die navolging van hierdie leer `n ewige lewe vir gees en siel kan bereik. En in dié opsig is dit heeltemal korrek wat Christus oor Homself gesê het, dat slegs Hy die weg, die waarheid en tewens die lewe Self is!” 

7. En voorwaar, Ek sê vir julle: Daar is duisende en nogeens duisende, wat op grond van hulle insig so `n bekentenis aflê; tog sê Ek: Hulle is dood en het nóg die weg, nóg die waarheid, nóg die deur en die lewe gevind. 

8. Mense sal sê: “Dit klink grof en meedoënloos. Hoe is so-iets nou te rym met die allerhoogste liefde van God? Wat kan `n mens meer doen as om deur ywerige studie `n volledige insig te kry in die groot waarheid en goddelikheid van die groot Leermeester. Is daar iets hoër waarna die mens kan streef as die duidelike herken van die hoogste, heilige waardigheid van die goddelike woord en dit ook werklik deur sy inspanning begryp? 

9. Ek sê egter: Enersyds is dit waar, dit is sekerlik beter om so-iets te doen as om alles te verwerp en hulle aan die wêreldse hoogmoed oor te gee, maar in die Skrif staan ook: “Baie sal in die tyd vir My sê: “Heer, Heer!”, en dan staan daar wat Ek aan hulle sal sê: “Ek het u nooit geken nie; gaan weg van My af!” 

10. Dit is die agtergrond van hierdie bekende teks uit die Nuwe Testament. Deur die uitspraak “Heer, Heer!” word aangegee dat Christus wel as die weg, die waarheid en die lewe erken word. Maar watter nut het dié erken as niemand op die weg wil wandel en geen sin het om daadwerklik volgens die waarheid te handel om daardeur tot die lewe te kom nie? 

11. Ek is tog sekerlik geen toneelspeler wat hom net met applous moet tevrede stel nie. My aangeleentheid is ewig en ernstig, en daarom verlang Ek ook `n ernstige werksaamheid en nie maar net los byvalsbetuigings nie. 

12. Watter gesig sou `n ryk bruidegom nie trek as verskillende bruide hom sou bewonder en hom sou loof en prys; maar wanneer hy een van hulle sou wil uitkies, sy sou wegloop en hom in haar hart bowendien nog sou beskimp oor `n dergelike onbeskaamdheid? 

Hoofstuk 4 Mobiele weergawe Kommentaar